• Tuisblad
  • Howe
  • Pa wat dogter glo verkrag probeer 'gevolge ontduik'
Foto ter illustrasie/Pexels,Ekaterina Bolovtsova
Foto ter illustrasie/Pexels,Ekaterina Bolovtsova

Pa wat dogter glo verkrag probeer 'gevolge ontduik'

Iréne-Mari van der Walt
Die man wat daarvan beskuldig word dat hy sy dogter verkrag het, haar swanger gemaak en haar toe gedwing het om ’n aborsie te kry, maak glo ’n voorval op waar hy en sy dogter seksuele omgang in Angola gehad het.

Die rede is na bewering omdat die hof nie die jurisdiksie het om hom aan ’n misdaad skuldig te bevind wat buite die land se grense plaasgevind het nie.

Die staatsaanklaer Palmer Khumalo het gister in die hoërhof in Windhoek aangevoer die beskuldigde het dié weergawe opgemaak om te verduidelik hoe sy minderjarige dogter swanger geraak het met die fetus wat positief vir sy DNS getoets het en terselfdetyd die gevolge daarvan te ontduik.

Hy het verder aangevoer dat die beskuldigde se weergawe van die gebeure by Ondjiva in Angola nie geloofwaardig is nie omdat die beskuldigde in sy getuienis in detail kon onthou wat voor die voorval gebeur het, maar niks kon onthou toe hy na bewering naak langs sy dogter wakker geword het nie.

Nog ’n detail van die beskuldigde se getuienis wat Khumalo in twyfel getrek het, is die teenwoordigheid van die beskuldigde se meisie.

Die beskuldigde het tydens sy getuienis gesê sy destydse meisie het saam met hom en sy dogter na Ondjiva gegaan en vroegoggend lughawe toe gegaan om terug na Namibië te keer.

Die beskuldigde het beweer dat sy minderjarige dogter sy meisie na die lughawe geneem het en toe hy wakker word het hy langs sy naakte dogter gelê.

Khumalo het aangevoer dat die hof nie kan glo die man se meisie het wakker geword en hom nie wakker gemaak om te groet nie. Hy verduidelik verder dat sy weergawe dat sy dogter, wat nie ’n lisensie het nie, sy meisie lughawe toe geneem het nie klop nie.

Oor die geloofwaardigheid van die klaagster het Khumalo aangevoer dat haar getuienis oor haar skok tydens die eerste beweerde verkragting “die beste moontlike antwoord” was.

“Watter ander reaksie verwag ons van ’n kind?”

Die pa het sy kind glo verskeie kere oor ’n tydperk van drie jaar verkrag, nadat hy haar glo die eerste keer verkrag het toe hulle gaan kamp het. Sy beweer dat hulle ’n tent gedeel het en sy wakker geword het terwyl hy haar verkrag het.

Khumalo verduidelik dat die beweerde eerste verkragting reeds op die eerste aand wat die dogter by haar pa gaan bly het, daarop dui dat die beskuldigde van die begin af die voorneme gehad het om sy dogter te verkrag.

Khumalo verduidelik ook dat die klaagster eerlik was oor die teenstrydighede en leuens in die verskillende verklarings wat sy aan die polisie gegee het. Volgens Khumalo was die feit dat sy die saak wou terugtrek ook ’n goeie rede.

Sy het tydens die verhoor getuig dat sy die saak wou terugtrek omdat die beskuldigde se seun haar gevra het om dit te doen weens haar ouma se verswakkende gesondheid en die impak wat die saak op die ouma sou hê.

Die beskuldigde se regsverteenwoordiger, Joseph Andreas, het aangevoer dat die klaagster haarself egter gereeld en sonder rede skuldig maak aan leuens.

“Sy het sonder rede vir haar ma gejok. Hoekom was dit nodig om vir haar ma te jok? Sy het geen rede gehad nie,” het hy aan regter Claudia Claasen gesê

Khumalo het ook aangevoer dat die klaagster se getuienis as die waarheid aanvaar kan word omdat haar weergawe grafies en gedetailleerd is.

Oor bewerings dat sy alkohol en dwelms misbruik, het Khumalo staatgemaak op haar getuienis dat sy haar pa een aand in Angola gevra het of sy twee siders mag drink.

“[Die beskuldigde] probeer haar uitmaak as iemand wat verslaaf is aan dwelms en alkohol en buite beheer is, maar hoekom sou sy toestemming vra?”

Andreas het gesê die klaagster se weergawe is nie geloofwaardig nie omdat belangrike detail nie in haar verklarings aan die polisie genoem word nie – insluitend haar bewering dat die beskuldigde haar verkrag het terwyl ’n geweer op haar gerig is.

Hy het ook aangevoer dat haar bewerings van aanrandings nie geloofwaardig is nie aangesien daar geen letsels was nie.

Uitspraak sal na verwagting op 17 Oktober gelewer word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 20° | 24° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 21° | 27° Otjiwarongo: 20° | 30° Omaruru: 20° | 32° Windhoek: 19° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 24° Rehoboth: 19° | 33° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 35° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 14° | 27° Ariamsvlei: 21° | 35° Oranjemund: 13° | 26° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 19° | 33° Lubumbashi: 16° | 31° Mbabane: 19° | 27° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 16° | 25° Lilongwe: 20° | 32° Maputo: 23° | 33° Windhoek: 19° | 32° Cape Town: 19° | 25° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 17° | 27° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 18° | 32° Harare: 19° | 29° #REF! #REF!