Paragon Investment Holdings meen hulle is gereed om die grondhanteringsdienste by die Hosea Kutako Internasionale Lughawe oor te neem. Foto Elizabeth Joseph.
Paragon Investment Holdings meen hulle is gereed om die grondhanteringsdienste by die Hosea Kutako Internasionale Lughawe oor te neem. Foto Elizabeth Joseph.

Paragon glo gereed vir lughawe

80 werknemers reeds opgelei
Paragon het bevestig die maatskappy sal van ou Air Namibia-toerusting gebruik maak indien hulle die grondhanteringsdienste by die internasionale lughawe sou oorneem.
Kristien Kruger
Paragon Investment Holdings sê die maatskappy en sy vennote is gereed om die grondhanteringsdiente by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako (HKIA) oor te neem wanneer die hofgeding tussen die Namibiese Lughawensmaatskappy (NAC) en Menzies Aviation afgehandel is.

Menzies Aviation het die afgelope agt jaar dié dienste by die lughawe hanteer voordat die kontrak aan Paragon en sy gesamentlike vennoot, Ethiopian Airlines, toegeken is.

Die NAC het ’n dringende aansoek by die hoërhof in Windhoek ingedien om te verseker Menzies ontruim op 30 Junie die lughawe dat Paragon op 1 Julie die grondhanteringsdienste kan oorneem.

Menzies het nie net dié aansoek teengestaan nie, maar het ’n teeneis ingestel met die hoop om ’n interdik teen NAC te verkry wat die oorhandiging van dienste uitstel tot ’n hersieningsaansoek – wat die maatskappy by die hof ingedien het – afgehandel is.

Menzies se hersieningsaansoek poog om NAC se besluit om die tender aan Paragon toe te ken, te hersien en tersyde te stel. Hulle beweer dat Paragon nie aan die tendervereistes voldoen het nie en daarom nie die kontrak moes kry nie.

Die hof het op 29 Junie die NAC se dringende aansoek toegestaan en beveel dat Menzies die perseel moet ontruim. Menzies het teen dié uitspraak geappelleer en hul hersieningsaansoek duur voort.

Menzies bly vir tyd en wyl en tot die hofsaak afgehandel is, in beheer van grondhanteringsdienste by HKIA.

‘MEER AS GEREED’

Nadat Menzies in hul hofstukke beweer het Paragon sal nie die mas kan opkom nie en die maatskappy glo van verouderde Air Namibia-toerusting gebruik gaan maak, sê Paragon hulle is gereed om die dienste te verrig.

“Al die geld wat hier betrokke is, sal in Namibië bly, want hierdie is ’n Namibiese maatskappy. Geen geld sal aan vennote in die buiteland betaal hoef te word nie, so dit is deur Namibië vir Namibië. Ons is meer as gereed om die land te dien,” het Paragon se medestigter, mnr. Desmond Amunyela, gesê.

Paragon het glo reeds meer as N$25 miljoen aan toerusting bestee. Amunyela het verduidelik dat sommige toerusting wat by Air Namibia oorgeneem is, opgeknap en opgegradeer moes word.

“Dit is in ons ooreenkoms met die NAC dat ons die toerusting moet aanskaf wat nie minder as vyf jaar oud is nie.”

Paragon het glo reeds 80 mense opgelei en in diens geneem en sal na bewering met sowat 90 voltydse werknemers oor sy verskeie departemente begin.

“Ons het mense met ondervinding en opleiding aangestel en 'n Franse opleidingsowerheid het die werknemers verder opgelei.

“Die personeel is opgelei in elke aspek van grondhantering en ons het waarskynlik die bes opgeleide en mees ervare personeel in Namibië,” meen Amunyela.

Hy het ook gesê opleidingsgeriewe sal op die perseel beskikbaar wees om te help om die standaard van die werknemers se vaardighede te handhaaf.

“Namibiërs moet trots wees op hierdie stap, want ons is meer as gereed en oop vir enige oudit van 'n Namibiese belanghebbende. Laat ons nie in wilde bewerings glo nie,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!