Paratus slaag in hofaansoek teen Cran, CoW

Stad se lisensie tersyde gestel
Die hof het verlede week beveel dat die telekommunikasielisensie wat in April 2020 aan Stad Windhoek toegeken is, teruggetrek moet word.
Kristien Kruger
Die hoërhof in Windhoek het verlede week in Paratus Namibia se guns beslis in ’n hofaansoek wat die telekommunikasiemaatskappy teen Stad Windhoek (CoW) en die die regulerende Owerheid vir Kommunikasie in Namibië (Cran) aanhangig gemaak het.

Paratus se aansoek het ten doel gehad dat Cran se besluit om 'n telekommunikasielisensie aan CoW toe te ken, tersyde gestel moet word.

Regter Thomas Masuku het ingevolge ’n hofbevel beveel dat Cran se besluit - wat op 29 April 2020 bekend gemaak is - om 'n spesifieke telekommunikasiedienslisensie bekend as ’n Class Comprehensive Telecommunications Service Licence (ECNS en ECS) aan CoW toe te ken, tersyde gestel moet word. Masuku het verder beveel dat Cran en CoW aanspreeklik is om die koste van die aansoek te betaal.

AGTERGROND

Paratus het in sy aansoek aangevoer dat die munisipaliteit se lisensieaansoek ’n aantal onreëlmatighede bevat het. Die telekommunikasiemaatskappy het verder aangevoer dat geen aansoek in werklikheid behoorlik voor Cran gebring is nie, aangesien CoW se aansoek gebrekkig was met sekere nodige inligting wat ontbreek het.

Hulle het voorts aangevoer die persoon wat die aansoek ingedien het, was nie deur munisipale strukture gemagtig om dit te doen nie en dat die lisensie waarvoor aanvanklik aansoek gedoen is, nie die lisensie is wat Cran uiteindelik toegestaan het nie.

Paratus het ook aangevoer dat hy 'n geleentheid geweier is om vertoë te rig rakende die aard en stand van die aansoek.

“Daar was ook 'n mate van geheimhouding in die wyse waarop die aansoek hanteer is, wat daartoe gelei het dat die applikant (Paratus), 'n belanghebbende party, nie toegang tot alle relevante inligting en materiaal gehad het om dit in staat te stel om sinvolle vertoë voor Cran te maak nie,” lui die uitspraak rakende Paratus se betoë.

CoW het tydens die verhoor aangevoer daar was geen onreëlmatigheid in die aansoek nie en dat hy geregtig was om vir die lisensie aansoek te doen. Die munisipaliteit het implikasies ontken dat dit bande buite die voorgeskrewe regulasies met Cran gehad het en beweer die lisensie is, volgens hulle, versigtig en ingevolge toepaslike kriteria deur Cran oorweeg. CoW het ook aangevoer die persoon wat die aansoek namens hom ingedien het, was ’n werknemer van die munisipaliteit en het onder opdrag van die uitvoerende bestuurder opgetree.

"CoW het daarop gewys dat een van sy sleutelverantwoordelikhede en funksies is om toerisme en die beskikbaarheid van bekostigbare kommunikasiedienste, soos internettoegang, te bevorder. Daar is ook aangevoer dat die CoW die neiging onder groot stede in die wêreld – wat as 'slimstede' beskryf word - nastreef met geriewe soos bekostigbare internettoegang wat buiten toegang tot inligting ook ander dienste soos polisiëring en misdaadvoorkoming ’n hupstoot kan gee."

UITSPRAAK

“Daar bestaan geen twyfel dat die besluit om ’n lisensie aan CoW toe te ken - waarvoor dit nie aansoek gedoen het nie - die applikant (Paratus) se regte sou beïnvloed. Dit moes vir Cran duidelik gewees het omdat die applikant reeds beswaar gemaak het teen die aansoek wat geadverteer is. Dit is onvergeeflik om die applikant by die proses uit te sluit wanneer ’n lisensie, wat nie voorheen geadverteer is nie, oorweeg word.

“Dit was 'n ernstige en onherstelbare faux pas aan Cran en die CoW se kant en kan nie op enige redelike grondslag geregverdig word nie. Dit volg op my standpunt dat die aansoek op hierdie punt alleen behoort te slaag,” lui Masuku se uitspraak, wat op 20 April gelewer is.

Die regter het ook uitgewys dat die feit dat Paratus nie ’n geleentheid gegun is om vertoë te lewer nie, daartoe bygedra het dat die aansoek toegestaan is.

“Die reg om aangehoor te word, is so fundamenteel dat enige besluit nie toegelaat sal word om staande te bly wanneer die reg om aangehoor te word, geskend is nie. Die redes of die omstandighede vir die skending daarvan verg nie regverdiging nie.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer