PG reageer op saak teen veteranewet

Gister uitgestel tot 4 Oktober
'n Voormalige SWATF-lid beweer die Veteranewet bevoordeel slegs Plan-lede.
Kristien Kruger
Die saak waarin die wet op veterane uitgedaag word op grond van die bewering dat die wet diskriminerend is deurdat dit slegs die vryheidsvegters van die destydse People’s Liberation Army of Namibia (Plan) bevoordeel, is onlangs vertraag.

Die prokureur-generaal (PG), Festus Mbandeka, het ook op dié aantygings gereageer.

Willem Beukes, ’n voormalige lid van die destydse Suidwes-Afrikaanse Gebiedsmag (SWATF), het vroeër vanjaar die hoërhof versoek om die Wet op Veterane van 2008 en die Wysigingswet op Veterane 3 van 2013 te hersien.

Hy beweer die huidige regering maak gereeld lasterlike aantygings, soos die stelling dat hulle aan die verkeerde kant geveg het tydens die vryheidstryd.

Mbandeka beweer egter Beukes se aansoek is foutief.

“Die wet kan nie deur ’n hof hersien, gewysig of reggestel word nie. Die wetgewende bevoegdheid berus by die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad en die regbank mag nie die funksies van die wetgewer oorneem deur die wet te wysig of reg te stel nie.

“Die aansoek moet op dié gronde alleen met koste van die hand gewys word,” voer hy aan.

Mbandeka voer verder aan dat Beukes ’n fout begaan het deur nie die minister van veteranesake by die hofaansoek in te sluit nie en verkeerdelik die kantoor van die regbank ingesluit het, aangesien hulle glo nie verantwoordelik is vir die wysiging en regstelling van wette nie.

Die minister van justisie, Yvonne Dausab, en die Speaker, Peter Katjavivi, het ook verklarings by die hof ingedien wat stel hulle steun Mbandeka se verklaring.

‘TEEN INTERNASIONALE WETTE’

Hoewel Beukes in sy verklaring beweer dat die SWATF-vegters “hulle verpligtinge nagekom het om die gebied wat nou as Namibië beskou word, teen gevorderde militêre reuse te beskerm”, voer Mbandeka aan dat die militêre aktiwiteite wat SWATF in Namibië voor onafhanklikwording uitgevoer het “in stryd was met internasionale wette”.

“Die Veiligheidsraad en die Algemene Vergadering het SWATF nie erken nie aangesien Suid-Afrika Namibië onregmatig beheer het. SWATF het dus nie wettiglik enige funksie in Namibië uitgeoefen voor onafhanklikwording nie,” beweer hy.

UITGESTEL

Partye sou gister voor regter Claudia Claasen verskyn vir voorverhoorverrigtinge, maar die saak is tot 4 Oktober uitgestel aangesien Beukes glo in die proses is om aansoek te doen om dokumente te wysig.

“Dus is dit nie haalbaar om verdere beëdigde verklarings uit te ruil hangend dié proses nie,” luidens die hofbevel.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer