Plaaswerker getuig nog in Riedel-saak

Hof aanvaar ysterpyp as bewysstuk
Een van die plaaswerkers wat destyds op die plaas Grünfeld gewerk het, is gister gekruisondervra.
Kristien Kruger
In die Riedel-saak wat gister hervat het, het ’n plaaswerker sy derde dag in die getuiebank deurgebring.

Hy het getuig dat die twee moordbeskuldigdes hom gedreig het om stil te bly oor wat hy gesien het.

Michael Araeb was werksaam op Armin Siegfried Riedel (68) en sy vrou, Brunhild (66), se plaas in die Gobabis-omgewing toe hulle in 2018 vermoor is en hul plaashuis afgebrand is met hulle liggame binne-in.

Hy het Dinsdag getuig dat hy gesien het hoe die twee beskuldigdes, Bernardus Afrikaner (38) en Salaphual Unaeb (47), op die noodlottige dag vir Brunhild voor die plaashuis oorrompel en haar in die huis gedwing het.

Hy het gister getuig dat een van die beskuldigdes hom ná die voorval vasgehou het terwyl die ander hom met ’n pyp gedreig het.

“Jy is die enigste een wat gesien het toe ons die wit vrou gegryp het,” het Unaeb glo vir hom gesê.

YSTERPYP INGEHANDIG

Araeb het ook getuig dat Unaeb ’n 40 cm lange ysterpyp in sy hand gehad het toe hulle Brunhild na bewering voor die huis aangeval het.

Dié geroeste vierkantige pyp is gister tydens verrigtinge aan die hof gewys en aan Araeb in die getuiebank gegee. Hy het bevestig dat dit die pyp is wat hy destyds in Unaeb se hande gesien het.

Regter Naomi Shivute het toegelaat dat die pyp as bewysstuk by die hof ingedien word.

KRUISONDERVRAGING

Nadat staatsaanklaer Ethel Ndlovu gister Araeb se hoofgetuienis afgehandel het, het die verdediging met kruisondervraging begin.

Die beskuldigdes het, by monde van hulle regsverteenwoordiger, Araeb se weergawe van daardie dag se gebeure ontken.

Afrikaner en Unaeb voer aan dit was ’n gewone dag op die plaas en hulle het, nes elke dag, die koeie gemelk en was omstreeks 16:30 terug by hulle woonplekke.

Die verrigtinge sal na verwagting vandag voortduur met Araeb se kruisondervraging.

Afrikaner en Unaeb staan tereg op twee klagte van moord, twee klagte van verkragting, diefstal met verswarende omstandighede, brandstigting en dwarsboming van die gereg.

[email protected]

Verwante artikels:

RIEDEL-SAAK BEGIN BYNA 6 JAAR NÁ MOORDE

PLAASWERKER SIEN ‘AANVAL’ OP BRUNHILD

PLAASWERKER GETUIG NOG IN RIEDEL-SAAK

Kommentaar

Republikein 2025-01-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 31° Rundu: 19° | 30° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 29° Ruacana: 20° | 32° Tsumeb: 19° | 31° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 21° | 34° Henties Bay: 19° | 22° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 26° | 38° Keetmanshoop: 24° | 38° Aranos: 25° | 37° Lüderitz: 18° | 33° Ariamsvlei: 22° | 38° Oranjemund: 17° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 22° | 37° Lubumbashi: 16° | 21° Mbabane: 16° | 28° Maseru: 17° | 34° Antananarivo: 16° | 24° Lilongwe: 18° | 24° Maputo: 22° | 33° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 20° | 26° Durban: 19° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 26° Harare: 16° | 27° #REF! #REF!