'n Man dagvaar die regering vir sowat N$2 miljoen nadat hy na bewering in 2020 deur lede van die polisie aangerand is. Foto Argief
'n Man dagvaar die regering vir sowat N$2 miljoen nadat hy na bewering in 2020 deur lede van die polisie aangerand is. Foto Argief

Polisie probeer glo man versmoor

Eis N$2 miljoen van regering
Die regering is weer in die hof ná polisielede glo 'n man aangerand het tydens ondervraging rakende twee renosters wat in die Kunenestreek gestroop is.
Kristien Kruger
’n Inwoner van die informele nedersetting Puros in die Kunenestreek dagvaar die regering vir N$2 miljoen se skadevergoeding nadat polisiebeamptes hom na bewering in Mei 2020 aangerand het.

“’n Plastieksak is herhaaldelik met geweld oor sy kop getrek om hom te versmoor. Die polisielede het hom gedreig en gesê hulle gaan hom doodmaak,” lui mnr. Collin Kasupi se eis.

Kasupi beweer ook dat hy herhaaldelik geklap, met vuiste geslaan en oral oor sy liggaam geskop is.

Die beweerde aanranding het glo plaasgevind toe Kasupi ondervra is in verband met twee renosters wat gestroop is in die bewaringsgebied waar hy gewerk het.

Die regering het in hul pleitstukke die aanranding ontken en vyf polisiemanne wat die dag teenwoordig was, het in getuieverklarings gesê Kasupi is nie aangerand nie.

Twee ander mans, vir wie die polisie op dieselfde dag ondervra het, het getuienisverklarings by die hoërhof ingedien wat stel dat hulle Kasupi direk ná die ondervraging gesien het en sy gesig was geswel en vol bloed.

Kasupi se seun het ook ’n getuieverklaring ingedien wat getuig sy pa het met die beserings by die huis aangekom nadat die polisie hom van die ondervraging teruggebring het.

“My pa was ernstig beseer en sy gesig was opgeswel. Hy kon skaars loop en was in vreeslike pyn. Dit was duidelik dat hy aangerand is,” lui die seun se verklaring.

EIS

Kasupi eis N$2 miljoen se skadevergoeding vir die pyn, lyding en vernedering wat hy as gevolg van die aanranding ervaar het.

“Hy het ernstige beserings opgedoen, insluitend sy bors, nek, rug en buik. Hy moes sielkundige trauma, ongemak en erge pyn verduur.

“Hy het vir sy veiligheid gevrees en die insident het hom getraumatiseer en verneder,” lui Kasupi se eis wat op 9 Maart 2021 by die hoërhof in Windhoek ingedien is.

Die regering het in hul pleitstukke uitgewys Kasupi het eers sewe dae ná die beweerde aanranding, mediese hulp gesoek.

Volgens Kasupi het die aanranding voor lede van die publiek plaasgevind, wat tot die vernedering bygedra en tot die skending van sy waardigheid gelei het.

Die regering beweer in hul pleitstukke dat die ondervraging nie voor die publiek plaasgevind het nie.

“Dit was die eiser (Kasupi) se idee om nie die ondervraging by sy huis te doen nie, maar onder ’n boom in die droë rivierbedding.”

Die partye het Donderdag voor regter Thomas Masuku verskyn vir statusverhoor.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!