• Tuisblad
  • Howe
  • Polisielede ‘onderhandel’ glo met Lichtenstrasser

Polisielede ‘onderhandel’ glo met Lichtenstrasser

'Ek was moeg'
Die beskuldigde – wat tereg staan op die moorde van Eckhart Mueller en Heimo Hellwig – het ontken dat hy Mueller voor die voorval gedreig het.
Iréne-Mari van der Walt
“Hulle [polisiebeamptes] het gesê hulle weet ek is die skieter, maar as ek skuld erken sal hulle getuig dat ek my samewerking gegee het en onder die invloed van alkohol was, dan sal ek net agt jaar [tronkstraf] kry.”

So het die dubbele moordbeskuldigde Ernst Lichtenstrasser gister in die hof getuig.

Hy staan tereg op die moord van die Namibiese Instituut vir Mynbou en Tegnologie (Nimt) se uitvoerende direkteur, Eckhart Mueller, en sy adjunk, mnr. Heimo Hellwig in 2019 op Arandis.

Lichtenstrasser het gister in die getuiebank gesê dat polisiebeamptes tydens ondervraging aangevoer het dat hy ‘n “opgeleide terroris is” en dat lede van die polisie later aan hom gesê het: “Julle terroriste begrawe mos altyd goed.”

Hy het ook erken dat hy wel vir sersant Matheo Mulauli gevra het om hom te skiet. Mulauli het vroeër getuig dat Lichtenstrasser hom gevra het om hom te skiet voor hy glo gevra het om na wyle sersant Anna Kapena se kantoor geneem te word “om die waarheid te praat”.

Lichtenstrasser het gesê dat hy Mulauli gevra het om hom te skiet omdat hy uitgeput was weens sy aanhouding en ondervraging.

Hy het Maandag ontken dat hy Mueller voor die voorval gedreig het.

Volgens ’n vorige getuie het Lichtenstrasser glo aan Mueller gesê hy moet “met een oog oop slaap”.

Lichtenstrasser het dit ontken en aangevoer dat dié dreigement in ’n anonieme brief aan verskeie NIMT-werknemers gerig is.

Hy het gesê hy dra geen kennis van die oorsprong van die brief nie.

Lichtenstrasser het aangevoer dat ’n groep Nimt-werknemers in aanloop tot die anonieme brief onrustig geraak het weens verskeie kwessies, soos die bedreiging van hul werksekuriteit, die finansiële bestuur van Nimt, korrupsie en nepotisme in dié instansie.

Hy het ook gesê hy was nie gekant teen sy verplasing van Tsumeb na Keetmanshoop nie, maar hy het beswaar gemaak teen die finansiering van sy trek.

“Ek sou self vir die trek moes betaal en dit by hulle [NIMT] moes terugeis. Ek het geweet daar sal ’n probleem met die eis wees,” het hy gesê.

Lichtenstrasser het aan die hof gesê hy het nie ’n probleem met Hellwig gehad nie en dat hy ’n verhouding gebaseer op wedersydse respek met Mueller gedeel het.

“Hy was nie maklik om tevrede te stel nie, maar ek dink ek het hom tevrede gestel met my werk en ek het hom gerespekteer vir sy werksetiek,” het Lichtenstrasser aan regter Christie Liebenberg gesê.

Hy het Maandag getuig dat hy etlike dae in die woestyn naby Spitzkoppe deurgebring het sonder enige kontak met die buitewêreld.

“Weens my posttraumatiese stres het ek soms ’n behoefte om alleen te wees,” het hy verduidelik.

Lichtenstrasser het gesê hy het eers ’n dag ná die moorde deur die media van die voorval bewus geword.

Hy het gister getuig dat polisiebeamptes hom telkemale gevra het om hulle na die plek in die woestyn te neem waar hy na bewering ten tyde van die moord was, maar hy het geweier omdat die polisie hom nie toegelaat het om sy prokereur te kontak nie.

Lichtenstrasser is die eerste getuie in die verdediging se saak nadat die staat in Desember verlede jaar sy saak afgesluit het.

Sy regsverteenwoordiger, Albert Titus, het aan Liebenberg gesê hulle wil nog drie getuies roep waarvan een ’n ballistiese kenner uit Amerika is. Titus het gesê die kenner, William Tobin, sal in April getuig.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!