Prokureur vat glo kliënt se N$650 000

Geld verdwyn uit trustrekening
'n Prokureur op Rundu het versuim om geld in 'n trustrekening aan sy kliënt terug te betaal, waarna die kliënt hom tot die hof gewend het.
Kenya Kambowe
Kenya Kambowe

’n Prokureur wat op Rundu gebaseer is, is geskors hangende ’n dissiplinêre ondersoek na bewerings van onetiese en onprofessionele gedrag.

Dit nadat hy N$650 000 uit sy prokureursfirma se trustfonds – wat aan ’n kliënt behoort het – wanbestee en versuim het om die geld terug te betaal. Die kliënt moes hom tot die hof wend om sy verskuldigde geld terug te kry.

Mnr. Ricardo Mukonda, die prokureur wat homself in warm water bevind, word ook ondersoek omdat hy die kliënt, mnr. Alfred Ndabeni, N$89 000 gevra het terwyl hy slegs ’n uitspraak by verstek kon kry. Mukonda moet dus die faktuur verskaf wat uiteensit hoe dié koste bereken is.

Ingevolge die hoërhofbevel van 28 Julie ten gunste van die Regsvereniging van Namibië (LSN), wat die hof op ’n dringende basis genader het, het regter Shafimana Ueitele beveel dat Mukonda tydelik uit die praktyk geskors word hangende die beslissing oor die klagte wat by die dissiplinêre komitee ingedien is. Dit ingevolge artikel 35 (subartikel 1) van die Wet op Regspraktyk van 1995.

Sy tydelike skorsing sal ingevolge artikel 32 (subartikel 5) van dié wet op 5 September verval.

Ueitele het verder beveel dat die direkteur van die LSN, me. Margaretha Steinmann, tydelik as kurator bonis van die trustfonds aangestel moet word – met die hulp van ’n agent wat vir dié doel aangestel moet word. Die twee partye moet die bestuur van Mukonda & Co. Inc se trustrekening en sakerekening behartig.

Die LSN het die hoërhof genader nadat Ndabeni op 29 April ’n klag teen Mukonda en sy prokureursfirma ingedien het.

Die geskiedenis tussen die twee het begin toe Ndabeni van Mukonda se dienste wou gebruik maak in ’n geskil tussen hom en die Katima Mulilo-dorpsraad.

Mukonda het daarin geslaag om ’n uitspraak by verstek ten gunste van sy kliënt te kry. Altesaam N$1 411 645 moes gevolglik aan Ndabeni betaal word, wat deur die regsfirma se trustfonds gekanaliseer sou word.

Die Katima Mulilo-dorpsraad het op 13 April 2021 die eerste betaling van N$650 000 aan die regsfirma se trustfonds gemaak, wat weer aan Ndabeni oorbetaal moes word.

Hierdie geld is egter nooit oorbetaal nie en Ndabeni beweer hy het tot op hede niks ontvang nie.

ONGERYMDHEDE

Die trustfonds se bankrekords toon dat daar teen 30 September 2021 net N$31 in die rekening was.

Op 16 November 2021 het die dorpsraad die tweede betaling van N$761 645,13 gemaak, maar dié keer is die geld aan Ndabeni oorbetaal.

Met die regsfirma wat nie bereid was om die uitstaande N$650 000 te betaal nie, het Ndabeni hom toe op 29 April tot die LSN gewend waar hy die klag teen Mukonda en sy firma ingedien het.

Afgesien van die bedrag wat aan hom verskuldig is, het Ndabeni ook beweer dat Mukonda se regsfooi van N$89 000 buitensporig was.

Nadat die klag ingedien is, het die LSN ’n brief gedateer 10 Mei aan Mukonda gerig om duidelikheid te probeer kry. Mukonda het egter nie op die brief gereageer nie.

Die LSN het toe nog ’n brief gedateer 23 Mei aan Mukonda gestuur, waarop hy steeds nie gereageer het nie.

In ’n derde brief op 1 Junie is Mukonda ingelig dat die LSN iemand sal stuur om sy boeke na te gaan en die saak te ondersoek.

Op 6 Junie het mnr. Alan Engelbrecht, die LSN se beampte wat moet seker maak wette en die regte interne prosedures word gevolg, Mukonda se kantoor op Rundu vir ’n inspeksie besoek en gevind dit is gesluit. Niemand was ook beskikbaar om hom met die inspeksie te help nie.

Engelbrecht het op 7 Junie ná agtuur die oggend teruggekeer en gevind dat die kantoor steeds gesluit is.

Mukonda is later die dag by die Rundu-landdroshof opgespoor, waar hy oor die aard van Engelbrecht se besoek ingelig is.

Hy en Engelbrecht is saam na sy kantoor toe, waar hy hom toegelaat het om sy boeke deur te kyk.

Sommige dokumente was by sy huis en hy moes dit gaan haal.

Engelbrecht het al die bewyse gevind wat hulle nodig gehad het om Ndabeni se storie te bevestig.

Volgens die dokumente wat by die hof ingedien is, is albei betalings deur die Katima Mulilo-dorpsraad in die prokureursfirma se boeke aangeteken, ondanks sommige bankstate wat nêrens te vinde was nie.

Die dokumente het bevestig dat slegs een van die betalings aan Ndabeni oorbetaal is.

Afgesien van die bewyse dat die N$650 0000 nie aan Ndabeni betaal is nie, is ander ongerymdhede ook in die regsfirma se boeke opgemerk.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!