Ramatex-pakhuise mag verkoop word
Partye teken skikkingsooreenkoms
'n Uitgerekte hofsaak tussen die Windhoekse munisipaliteit en Ramatex se likwidateurs wat reeds in 2010 begin het, het gister tot 'n einde geloop.
Ingevolge ’n skikkingsooreenkoms sal die likwidateurs van Ramatex Textiles Namibia agt van die reusepakhuise op die perseel in Windhoek verkoop en die grond rehabiliteer.
Dít is die uiteinde van ’n hofsaak tussen die likwidateurs en Stad Windhoek (CoW) wat 13 jaar geduur het.
Een van die bepalings van die ooreenkoms is dat die munisipaliteit 30% van die netto inkomste van twee van die agt pakhuise sal ontvang.
Dié pakhuise staan bekend as die Tai-Wah-pakhuise en die munisipaliteit het beweer Ramatex was nie geregtig om vergoeding vir die oprigting van daardie twee geboue te ontvang nie aangesien hy die huurooreenkoms met Tai-Wah gesluit het.
Ramatex het beweer hy het die finansiering verskaf om dié twee geboue op te rig.
Die pakhuise se waarde word deur die likwidateurs David Bruni, Ian McLaren en Simon Steyn bepaal.
DRIE JAAR
Die verkoops- en rehabilitasieproses moet ingevolge die skikkingooreenkoms binne drie jaar afgehandel wees.
“In die geval dat die grond waarop die pakhuise gebou is nie teen die einde van dié drie jaar gerehabiliteer is nie, sal die munisipaliteit binne reg wees om ’n onafhanklike kontrakteur aan te stel om die rehabilitasie teen ’n redelike bedrag uit te voer en op die likwidateurs se onkoste,” luidens die skikkingsooreenkoms.
Die skikking stipuleer verder dat die munisipaliteit ook ná drie jaar – indien die verkoops- en rehabilitasieproses nie afgehandel is nie – eienaarskap kan neem van die materiaal wat op die eiendom oorbly, wat die pakhuise of dele daarvan insluit.
Die munisipaliteit sal wel vir tyd en wyl en hangend die afhandeling van die verwydering van die pakhuise voortgaan om die sekuriteitsdienste te lewer.
AGTERGROND
Die CoW besit die eiendom waarvan Ramatex ’n gedeelte gehuur het, maar nadat Ramatex vrywilliglik gelikwideer is nadat dit in 2008 bankrot verklaar is, het die CoW die maatskappy opdrag gegee om die eiendom te ontruim.
Ramatex het na bewering tydens sy huurtydperk sekere geboue opgerig en verbeterings van byna N$80 miljoen op die eiendom aangebring. Die munisipaliteit het glo verliese van sowat N$22,4 miljoen gely. Die hofsake tussen die likwidateurs en munisipaliteit het gehandel oor die besit, besetting en beheer van die eiendom asook wie aanspreeklik is vir die verliese en wie uit die opgradering van die eiendom sal baat.
WAS REG VIR VERHOOR
Hoewel daar aanvanklik twee aparte sake tussen die Ramatex-likwidateurs en die munisipaliteit was – een wat in 2010 aanhangig gemaak is en die ander in 2013 – is die sake in Junie 2022 saamgevoeg.
Partye was vandeesweek gereed om met die verhoor voort te gaan, wat vir die volgende paar weke in die hoërhof in Windhoek voor regter Herman Oosthuizen geskeduleer was, maar partye het geskik en die skikkingsooreenkoms is gisteroggend ’n bevel van die hof gemaak.
Ingevolge die ooreenkoms moet elke party sy eie onkostes betaal en mag hulle geen verdere eise teen mekaar instel nie.
–[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie