• Tuisblad
  • Howe
  • ReconAfrica: Gemeenskap bied verset teen boorgate
ReconAfrica se tweede toetsboorgat by Mbambi. Foto Argief.
ReconAfrica se tweede toetsboorgat by Mbambi. Foto Argief.

ReconAfrica: Gemeenskap bied verset teen boorgate

Omgewingskommissaris wysig klaringsertifikaat
Komitees en verenigings van die gemeenskappe waar ReconAfrica sy volgende vier boorgate wil boor, is ontevrede met die omgewingskommissaris se besluite.
Kristien Kruger
“ReconAfrica se nuwe boor- en gepaardgaande olie- en gaseksplorasiebedrywighede sal onherstelbare skade aan die omgewing aanrig en ook ’n beduidende impak op die betrokke gemeenskappe hê.”

So lui die verklaring van die voorsitter van Ncumcara se komitee vir die bestuur van gemeenskapswoude, mnr. Paulus Kampanza, wat by die hof ingedien is ter ondersteuning van hul dringende aansoek teen die omgewingskommissaris en Reconnaissance Energy Namibia (ReconAfrica).

Ncumcara, Muduva Nyangana se komitee vir die bestuur van kommunale bewaringsgebiede en twee ander applikante het die aansoek op 4 Julie by die hoërhof in Windhoek aanhangig gemaak.

Hulle hoop om ’n dringende tussentydse interdik teen ReconAfrica te bekom om die voortsetting van petroleumeksplorasie te verhoed.

Dit sluit in die boor van vier nuwe gate en die ondersteunende infrastruktuur, soos die nuwe toegangspaaie, die gebruik van bestaande putte (burrow pits) en ander verwante dienste.

Die applikante versoek die interdik hangend die finalisering van ’n aansoek om appèl waarin hul poog om ’n hofbevel te kry wat ReconAfrica vereis om vir ’n nuwe omgewingsklaringsertifikaat (ECC) aansoek te doen.

APPÈLAANSOEK

Die omgewingskommissaris het in Augustus 2019 die ECC goedgekeur wat ReconAfrica gemagtig het om eksplorasiebedrywighede vir olie en gas in die Kavango-kom, Kavango-Wes en -Oosstreek te onderneem. Dié bedrywighede was beperk tot 2019.

ReconAfrica het in Mei 2022 aansoek om 'n verlenging van hul ECC gedoen, asook ’n aansoek om die voorwaardes van die ECC te wysig om die boor van vier bykomende gate in te sluit. Op 15 Junie 2022 het die kommissaris ReconAfrica se aansoek goedgekeur en die ECC gewysig.

Die applikante in hierdie saak beweer dat dié wysiging sonder ’n nuwe omgewingsimpakstudie gedoen is.

“Die gevolg van die wysiging is dat ReconAfrica nou gemagtig is om heeltemal nuwe bedrywighede uit te voer wat nie onder hul oorspronklike ECC van 2019 goedgekeur is nie. Hierdie aktiwiteite gebeur dan sonder behoorlike assessering en verdere konsultasie. Dit kan ook ’n beduidende nadelige impak op die omgewing tot gevolg hê wat onherstelbaar sal wees,” beweer die applikante in hul dringende aansoek.

‘VOLG NIE PROSESSE’

Die applikante voer aan dat ReconAfrica doelbewus die prosesse en vereistes van die Wet op Omgewingsbestuur verontagsaam het.

“Sulke voorgestelde boor- en gepaardgaande bedrywighede is onderhewig aan 'n volledige omgewingsimpakstudie waarin potensieel geaffekteerde belanghebbendes 'n geleentheid gegun word om impakte en nadelige gevolge te identifiseer, versagtingstrategieë te oorweeg en hul bekommernisse uit te spreek.

“In plaas hiervan is dit duidelik dat Recon doelbewus gepoog het om die vereiste prosesse te omseil deur 'n gerieflike en selfdienende kortpad te vat wat die die streng vereistes van die wet op omgewingsbestuur verydel,” lui Kampanza se verklaring.

Die applikante beweer dat hulle volgens die wet ’n verpligting het om die natuurlike hulpbronne van die gemeenskaplike grond en ander gebiede onder hul toesig, te bewaar en te bestuur tot voordeel van hul lede en die algemene publiek.

“Al die applikante word dus geraak deur die omgewingskommissaris en die betrokke administratiewe owerhede se besluitnemingsprosesse wanneer dit hul gemeenskaplike grondgebiede nadelig beïnvloed,” verduidelik Kampanza in sy verklaring.

Die ander applikante is die Katopen se komitee vir gemeenskapswoude en die Kavango-Oos en -Wesstreek se vereniging vir gemeenskapswoude en bewaringsgebiede.

Die agt respondente in die saak sluit in die omgewingskommissaris, adjunk-omgewingskommissaris, die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, die minister van myne en energie, die kommissaris van petroleumsake, die Nasionale Petroleumkorporasie van Namibië (Namcor) en natuurlik ReconAfrica.

Die respondente het nog nie op die dringende aansoek gereageer nie en sal na verwagting binnekort die hof in kennis te stel indien hul enige voorneme het om die saak teen te staan.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!