Die hoërhof in WIndhoek. Foto Argief
Die hoërhof in WIndhoek. Foto Argief

ReconAfrica vra verlof tot appèl

Regter glo bevooroordeeld
ReconAfrica wil die hoërhof se besluit om hul onttrekkingsaansoek van die hand te wys, in die hooggeregshof uitdaag.
Kristien Kruger
Reconnaissance Energy Africa (ReconAfrica) sal hierdie maand hoor of die maatskappy in die hooggeregshof teen ’n hoërhofuitspraak kan appelleer.

Die hoërhof het ReconAfrica se aansoek dat regter Eileen Rakow haarself van die saak teen mnr. Andreas Sinonge moet onttrek, van die hand gewys.

ReconAfrica het vroeër vanjaar beweer dat Rakow partydig optree en het aansoek gedoen dat sy haarself van die saak moet onttrek.

Nadat dié aansoek gefaal het, moes die maatskappy daarna toestemming van die hoërhof kry om die aansoek om appèl in die hooggeregshof voort te sit. Die maatskappy het daarom die hof om verlof tot appèl gevra.

ReconAfrica beweer die regter het ’n regsfout begaan deur nie haarself van die saak te onttrek nie.

Sinonge staan die verlof tot appèl teen. Dié uitspraak is vir 15 Julie voorbehou.

AGTERGROND

Sinonge, ’n inwoner van Mbambi in die Kavango-Oosstreek, het verlede jaar die saak teen ReconAfrica aanhangig gemaak.

Die maatskappy het glo sonder enige beraadslaging of vooraf kennisgewing die natuurlike woud en landerye op kommunale grond vernietig om hul tweede toetsboorgat te boor.

Sinonge eis ’n bevel om ReconAfrica van hul kommunale grond te verwyder en die gebied te rehabiliteer.

REGTER

ReconAfrica eis Rakow se onttrekking aangesien haar beslissing glo op verkeerde besluite en ’n verkeerde benadering gebaseer is en sy derhalwe tot die verkeerde gevolgtrekking gekom het.

“Die eerste grondslag vir die onttrekking van die regter is gebaseer op die manier wat die regter die dispuut tussen die applikant en die respondent hanteer het. Die dispuut het gehandel oor die vraag of die respondent outomaties belet moet word om sy antwoordende beëdigde verklaring in te dien.

“Die tweede grondslag is gebaseer op twee uitsprake wat Rakow in November verlede jaar tydens die statusverhoor gemaak het waarmee ReconAfrica nie saamstem nie.

“As gevolg van die bogenoemde het die applikant 'n redelike basis om te vrees dat indien die regter voortgaan om die saak aan te hoor, die regter nie die kwessies regverdig sal beoordeel nie,” lui ReconAfrica se verklaring.

Sinonge het aangedui dat hy die verlof tot appèl sal teenstaan en reeds beëdigde verklarings ter ondersteuning daarvan by die hof ingedien.

“Die hof het nie ’n regsfout begaan ten opsigte van die feite of die toepassing van die reg in sy uitspraak op die onttrekkingsaansoek nie. Die aansoeker [ReconAfrica] het geen vooruitsig op sukses op hierdie appèl nie. Trouens, die ingryping van die hooggeregshof is nie geregverdig nie aangesien daar geen moontlikheid is dat die hooggeregshof tot 'n ander gevolgtrekking sal kom.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer