• Tuisblad
  • Howe
  • RedForce sleep Henties se munisipaliteit hof toe
Foto argief
Foto argief

RedForce sleep Henties se munisipaliteit hof toe

Dringende aansoek aanhangig gemaak
Partye het Woensdag in die hoërhof in Windhoek verskyn en die saak is tot 5 November uitgestel.
Kristien Kruger
Die omstrede skuldinvorderaars RedForce Debt Management het Hentiesbaai se munisipaliteit hof toe gesleep om te keer dat sy kontrak op dié kusdorp beëindig word.

In sy dringende aansoek wat by die hoërhof in Windhoek ingedien is, voer RedForce aan dat die munisipale raad op 6 September ’n brief aan die maatskappy gestuur het waarin die raad verskeie redes verskaf waarom hulle die ooreenkoms wil beëindig.

“Die skielike aard van hierdie beëindiging was onverwags en het die applikant onkant gevang,” het Margaret Malambo, die adjunk- uitvoerende hoof en regsadviseur van RedForce, in ’n verklaring gesê.

Malambo het verder aangevoer dat RedForce sowat N$43,1 miljoen vanaf Februarie 2022 tot September 2024 namens die munisipaliteit ingevorder het. Dit kom neer op sowat N$1,5 miljoen per maand.

Die munisipaliteit het glo aan RedForce gesê dat hy minder as 30% oor twee jaar ingevorder het en nie die “aanvaarbare standaard” bereik het nie.

Malambo beweer dat daar tydens die ondertekening van die ooreenkoms met die munisipaliteit geen verwagte invorderingsvlak bespreek is nie. Sy bevraagteken ook die bron van inligting waarop die munisipaliteit staatmaak.

“Ek voer aan dat die betrokke skuld ’n ‘lewende’ skuld is, want dienste word elke maand deur inwoners verbruik, wat lei tot die opbou van nuwe skuld.

“Ek voer aan dat die besluit om die kontrak te beëindig onredelik is omdat dit versuim om te erken dat die skuld deurlopend is, met nuwe bedrae wat elke maand bygevoeg word,” lui die verklaring.



VERTOË

RedForce is glo op 15 Oktober ingelig dat die beëindiging van sy kontrak vir een maand uitgestel is sodat die partye oor die kwessie kan vergader.

Malambo was na bewering onder die indruk dat die maatskappy ’n geleentheid gegun sal word om vertoë te rig voordat ’n finale besluit geneem word.

“Tot die applikant se skok is daar op 18 Oktober ’n brief deur die eerste respondent [munisipaliteit] gestuur wat die beëindiging van die ooreenkoms bevestig.”

Malambo voer verder aan dat RedForce nooit enige klagtes ontvang het dat hy nie ingevolge die ooreenkoms optree nie. Sy voeg by dat RedForce glo te alle tye by die ooreenkoms gehou het.



VERRIGTINGE

RedForce eis dat die besluit om die kontrak te beëindig, hersien en tersyde gestel word en versoek ’n interdik wat die munisipaliteit sal verhoed om die kontrak te beëindig totdat die besluit hersien is.

Partye het Woensdag in die hof verskyn en die saak is tot 5 November uitgestel.

Hoewel die munisipaliteit nog nie ’n beantwoordende verklaring ingedien het nie, het hy reeds die hof in kennis gestel van sy voorneme om die saak teen te staan.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!