Regbank probeer hard, sê hoofregter

Konstruksie en opknappings gestaak
Die hoofregter het terugskouend op die jaar 2021 die gebiede uitgewys waar die Covid-pandemie die hardste getref het.
Kristien Kruger
Enkele hoogtepunte, maar meestal struikelbokke van die 2021-regsjaar is gister by die virtuele opening van die regsjaar deur hoofregter Peter Shivute en president Hage Geingob uitgewys.

Die tema van vanjaar se opening was “’n onafhanklike regbank wat regverdige, doeltreffende, effektiewe en toeganklike geregtigheid vir almal bied.”

Volgens Shivute wys die statistiek van verlede jaar op ’n regbank wat sy bes doen met beperkte hulpbronne en ondanks die betekenisvolle impak wat die Covid-19-pandemie die afgelope jaar op die hof se bedrywighede en planne gehad het.

Die howe het volgens hom ’n algemene afname in die getalle siviele sake beleef, maar die laer howe het veral ’n toename in geslagsgebaseerde geweld gesien.

Shivute het in sy uitspraak gesê die regbank sal vanweë Covid-19 nie hul opknappings en nodige konstruksie aan hofgeboue kan uitvoer nie.

Daar was ook ’n toename in wangedrag onder personeellede in howe, veral in die laer howe en hoofsaaklik wat diefstal en bedrog betref.

“Dis onaanvaarbaar. Diefstal van openbare fondse deur personeellede van die kantoor van die regbank, is nie goed vir die publiek se vertroue in die regbank nie,” het Shivute gesê.

VERTRAGINGS IN SAKE, UITSPRAKE Statistiek wys dat regters verlede jaar langer geneem het om uitsprake te lewer teenoor vorige jare.

Shivute het gesê dit was as gevolg van Covid-19 aangesien die inperking, asook siekte onder getuies, regspraktisyns of regters gelei het tot die vertraging van sake en lewering van uitsprake.

Geingob het ook kommer oor die kwessie uitgespreek.

“Daar was die afgelope jare voortdurend ’n gehuil dat hofrolle vol is en dat sake lank neem om afgehandel te word. Hoewel ek nie my blind hou vir die redes vir lang vertraging nie, is geregtigheid wat uitgestel word, geregtigheid wat weerhou word.

“Dis duidelik hierdie toenemende volumes en duidelike agterstand lei tot negatiewe openbare opvattings en ervarings en vertroebel die algehele beeld van regspleging.”

VROUE IN DIE REGBANK Volgens Shivute het die regbank die afgelope jare daarop gefokus om meer vroue by die regbank in te sluit en volgens sy statistiek het die landdroshowe tans 55% vroue in diens.

Die hoërhof het 42% vroue, maar die hooggeregshof het tans nie een vroulike regter nie. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer