Die hooggeregshof in Windhoek. Foto Argief
Die hooggeregshof in Windhoek. Foto Argief

Regering moet pa staan vir regskoste

Aansoek om appèl slaag gedeeltelik
Die regering moet regskostes betaal vir 'n appèlaansoek teen 'n hoërhofuitspraak oor regulasies wat tydens die Covid-19-pandemie ingestel is.
Kristien Kruger
Die regering was gedeeltelik suksesvol in sy aansoek om appèl teen ’n hoërhofuitspraak oor sekere regulasies met betrekking tot arbeidsoptrede wat tydens die grendeltyd ingestel is, maar moet die ander partye se regskoste dek.

Twee werkgewersorganisasies en vyf maatskappye was in Junie 2020 suksesvol in ’n hofaansoek waarin die hoërhof bevind het dat die arbeidsregulasies wat ingevolge die Covid-19-noodtoestand afgekondig is en werkgewers verbied om werknemers af te lê, hulle salarisse te verminder of hulle op verlof te plaas, ongrondwetlik en ongeldig is.

Die ongrondwetlikheid van dié arbeidsregulasie is volhou en die regering is weer eens beveel om alle regskostes te betaal.

“Die Namibië Werkgewersfederasie (NEF) het so ver gegaan as om skriftelik aan te bied om 50% van die regering se regskoste te laat vaar indien die regering sy appèl terugtrek. Dié versoek is ongelukkig van die hand gewys.

“Dit is nie net ’n mislukking in al twee howe nie, maar ook die aanspreeklikheid vir regskoste in albei sake waarvoor die belastingbetalers uiteindelik moet pa staan,” lui ’n NEF-verklaring.

Die respondente in die aansoek om appèl, sluit die NEF, die Namibië Werkgewersvereniging (NEA) en vyf maatskappye, naamlik Huab Safari Ranches, Skycore Aviation, FP du Toit Transport, JetX Couriers en John Meinert Printing in.

“Ons was altyd van mening indien ons bekommernisse, sienings en aanbevelings destyds oorweeg is, ons ons nie tot litigasie sou wend nie. Ons het egter geen ander keuse gehad as om die hof te nader om die regte van ons lede te beskerm nie,” volgens die verklaring.

GEDEELTELIK SUKSESVOL

Die president het regulasies 14 en 15 bekragtig om aan ministers sy regulasiebevoegdheid te delegeer.

Die werkgewersorganisasies het dié regulasie uitgedaag en beweer dat slegs die president gemagtig is om regulasies in te stel.

Die regering het aangevoer dat dié uitdaging voortydig was aangesien die president nie eintlik enige bevoegdheid aan die ministers gedelegeer het nie.

Die hoërhof het met die werkgewersorganisasies saamgestem en die president se delegering van opdraggewende magte geskrap.

Die hooggeregshof het egter met die aansoek om appèl bevind dit was wel voortydig en dat die hoërhof se bevel wat regulasies 14 en 15 betref, verkeerd was en tersyde gestel moet word.

REGULASIE 19 STEEDS ONGELDIG

Die maatskappye het ook regulasie 19 uitgedaag wat werkgewers verbied het om werknemers af te lê, hulle salarisse te verminder of hulle op verlof te plaas.

Hulle het beweer die doel daarvan was om werknemers se lewensbestaan te beskerm en het nie aan die grondwetlike drempel voldoen om “redelik regverdigbaar’ te wees om die situasie te hanteer wat tot die noodtoestand gelei het nie.

Die hoërhof het met die werkgewersorganisasies saamgestem. Die hooggeregshof het tot dieselfde gevolgtrekking gekom en bevind dat die hoërhof se besluit om dit ongeldig te verklaar, korrek is.

Die uitspraak is verlede Vrydag deur regter-president Petrus Damaseb, regter Sylvestor Mainga en regter David Smuts gelewer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!