Regslui kyk terug op laaste 30 jaar

23 kenners snoer kragte saam
Regskenners in Namibië en elders het 'n versameling vakkundige artikels saamgestel om die hooggeregshof in Namibië se 30ste bestaansjaar te vier.
Kristien Kruger
Verskeie regskenners en akademici het saamgespan om ’n oorsig van die hooggeregshof se rol in die ontwikkeling van Namibië se regspraak in die post-onafhanklikheidera te gee in die boek getiteld Namibia’s Supreme Court at 30 Years.

Die kantoor van die Regbank het dié boek op Vrydag 29 April by die Safari Court Hotel in Windhoek bekend gestel.

Die Regbank se kantoor het in ’n mediaverklaring gesê die boek het ten doel om die hooggeregshof in Namibië se 30ste bestaansjaar te vier.

“Die hooggeregshof was die afgelope 30 jaar van sy bestaan ’n baken en bewaarder van grondwetlike demokrasie en die oppergesag van die reg in Namibië. Die hof se beslissings poog om die aspirasies en waardes van die Namibiese mense te weerspieël,” lui die boek se voorwoord wat deur hoofregter Peter Shivute geskryf is.

Die boek fokus op die Namibiese hooggeregshof se struktuur en bevoegdhede en op die hof se waterskeidingsbeslissing en sleuteluitsprake.

“Regskenners in Namibië en ander lande het saamgewerk aan ’n versameling vakkundige artikels wat daarop gemik is om verskeie sleuteluitsprake van die hooggeregshof van die afgelope 30 jaar te ontleed en kritiek te lewer,” luidens die voorwoord.

Shivute was by die boekbekendstellingsgeleentheid aan die woord en het gesê dié sleuteluitsprake het aansienlik tot die hooggeregshof se jurisprudensie bygedra.

“Dit is my wens dat hierdie versameling nie die eerste en laaste van sy soort sal wees nie, maar dit ’n bron van aanmoediging en inspirasie vir ander sal wees om soortgelyke publikasies te ontwikkel. My verwagting is dat dit ’n kultuur van regskryfwerk onder ons regspraktisyns en akademici sal inspireer.

“Ek hoop ook die publikasies dien as ’n waardevolle regsverwysing vir die beroep, die akademie en inderdaad die algemene publiek,” het die hoofregter gesê.

Die visekanselier van die Universiteit van Namibië (Unam), prof. Kenneth Matengu, het opgemerk die boek handel oor byna drie dekades van regsprosedures en -uitsprake wat die hooggeregshof gelewer het.

“Ek is optimisties dat die aanbevelings in die boek as grondslag vir breër kennis oor Namibië se hooggeregshof sal dien en sy werksaamhede, om wetlike en maatskaplike transformasie te bewerkstellig.”

Altesaam 23 regskenners het kragte saamgesnoer om die inhoud van die boek te skep.

BORGSKAP

Die Konrad Adenauer Stiftung (KAS) is tydens die geleentheid en in die voorwoord bedank vir hul borgskap en ondersteuning om die boek moontlik te maak.

“Ons spreek ons dank teenoor die Konrad Adenauer Stiftung uit vir die verskaffing van die nodige tegniese en finansiële ondersteuning ter voorbereiding en publikasie van die boek.

“Sonder KAS se ondersteuning sou hierdie boek net ’n pypdroom wees. Daarom wil ek KAS bedank vir sy volgehoue ondersteuning vir die bevordering van regspleging in Namibië,” het Shivute in die voorwoord gesê.

“Dié publikasie, wat die werk van die hooggeregshof naspeur, moet gevier word en ons is bly om deel van die proses te wees wat tot die publikasie gelei het,” het die direkteur van KAS, me. Natalie Russmann, gesê.

SPAN KRAGTE SAAM

Dr. Tapiwa Victor Warikandwa en prof. John Baloro het die boek geredigeer.

Warikandwa is ’n senior lektor by Unam se regskool. Hy het ’n baccalaureusgraad in regte, ’n meestersgraad en doktorsgraad aan die Universiteit van Fort Hare in Suid-Afrika verwerf.

Hy spesialiseer onder meer in internasionale handelsreg, arbeidsreg en mynboureg.

Daarbenewens het hy sewe boeke in verskeie vakgebiede insluitend jurisprudensie, arbeidsreg, vroueregte en grondregte gepubliseer.

Baloro is ’n regsprofessor en voormalige dekaan van die fakulteit vir regsgeleerdheid (nou die regskool) by Unam. Hy het sy regsopleiding in Ghana, die Verenigde State van Amerika en die Verenigde Koninkryk ontvang. Hy is in September 1985 tot die balie in Ghana toegelaat en is beide ’n advokaat en prokureur van die hooggeregshof in Ghana.

Hy is vir meer as 38 jaar by regsopvoeding en navorsing in verskeie regskole op die Afrika-vasteland betrokke.

Gedurende dié tydperk het Baloro talle akademiese toekennings ontvang. Die mees onlangse toekennings is ’n meriete-sabbatstoekenning in 2018 vir uitstaande akademiese leierskap wat deur Unam toegeken is en die Commonwealth Professional Fellowship (GPF) wat die Statebondbeurskommissie in 2017 aan hom toegeken het.

Die projekdirekteure en -koördineerders wat toesig gehou het oor die voorbereiding en publikasie van die boek, het Shivute – wat vanaf 2004 as hoofregter van Namibië dien – asook mnr. Sebastiaan S. Kandunda en me. Kemanya Ndapewa Amkongo ingesluit.

Kandunda het ’n baccalaureus artium (BA), baccalaureus juris (B-Juris) en baccalaureus in die regte (LLB) (honneursgraad) aan Unam verwerf. Hy is ’n toegelate regspraktisyn en ’n geakkrediteerde bemiddelaar van die hoërhof van Namibië.

Amkongo is ’n toegelate regspraktisyn, lid van die Regsvereniging van Namibië (LSN) en ’n geakkrediteerde bemiddelaar van die hoërhof. Sy het ’n LLM (meestersgraad) aan die Universiteit van Birmingham verwerf, asook ’n baccalaureus juris (B-Juris) en baccalaureus in die regte (LLB) (honneursgraad) aan Unam. Sy is tans as ’n senior regsbeampte (navorsingsassistent) by die hooggeregshof in Namibië werksaam.

Namibia’s Supreme Court at 30 Years bestaan uit 19 hoofstukke.

Shivute het die eerste hoofstuk geskryf en dit handel oor die rol en funksie van die hooggeregshof en sy bydrae tot konstitusionalisme en regspraak.

Die minister van justisie, me.Yvonne Dausab, en mnr. Kelvin Vries het saam aan die tweede hoofstuk, “Transformatiewe konstitusionalisme in die hooggeregshof in Namibië: ’n Refleksie van 30 jaar se regspraak” gewerk.

Vries het in April 2018 sy LLB-graad aan Unam verwerf. Hy is tans met sy LLM in menseregte en demokratisering in Afrika aan die Universiteit van Pretoria besig.

Dr. Stefan Schulz, ’n adjunkdirekteur in die departement sosiale wetenskappe by die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust), waar hy die honneursprogram vir strafregspleging koördineer, en sy kollega en Nust-dosent, me. Ngutjiua Hijarunguru, het die hoofstuk aangaande wetgewing oor grondwetlike oppergesag, skeiding van magte en demokrasie behartig.

Voordat Schulz in 1998 by die akademie aangesluit het, het hy as staatsaanklaer en distriksregter in Rostock in Duitsland gewerk.

Prof. Samuel Kwesi Amoo wat in 2018 as ’n professor by Unam afgetree het, het ook tot die versameling van werke bygedra.

Hy was betrokke by beide voorgraadse en nagraadse onderrig en was die dekaan van die fakulteit regsgeleerdheid en waarnemende direkteur van die Justice Training Centre (JTC). Amoo het al breedvoerig oor die Namibiese regstelsel in boeke en gerespekteerde tydskrifte van internasionale aansien geskryf en sy publikasies sluit in, “An Introduction to Namibian Law” en “Property Law in Namibia”, wat albei voorgeskrewe handboeke is.

Ander regslui wat tot die boek bygedra het, sluit onder meer in dr. Ndjodi Ndeunyema wat onlangs sy DPhil in regte aan die Oxford Universiteit voltooi het en tans as ’n navorsingsdirekteur vir die Oxford Human Rights Hub dien, asook me. Gita K. Keshava, ’n prokureur wat in Kanada gebaseer is waar sy siviele litigasie en internasionale arbitrasie beoefen.

Keshava het in 2016 haar meestersgraad in regte aan die Oxford Universiteit voltooi en was daarna ’n klerk by die hooggeregshof in Namibië voordat sy na Kanada teruggekeer het. Sy is as regspraktisyn in die provinsies van Alberta en Brits-Columbië toegelaat.

HOOGSTE HOF VAN APPÈL

Die Regbank van Suidwes-Afrika (SWA) was voor onafhanklikwording met dié van Suid-Afrika saamgesmelt en was slegs ’n provinsiale afdeling van die hooggeregshof in Suid-Afrika.

Dit het beteken Suid-Afrika het die jurisdiksie gehandhaaf oor uitsprake wat die SWA gelewer het en was verantwoordelik om aangeleenthede wat voor hom op appèl was, aan te hoor en te bereg.

Met Namibië se onafhanklikwording in 1990 en die inwerkingtreding van die Namibiese Grondwet, het die hooggeregshof in Namibië die hoogste hof van appèl geword ingevolge artikel 79 van die Grondwet, en is deur die Wet op die Hooggeregshof 15 van 1990 versterk.

Sedertdien hoor die hooggeregshof appèlle aan teen hoërhofbeslissings en aangeleenthede wat die prokureur-generaal na die hof verwys, veral grondwetlike kwessies. Die hof bestuur sy eie prosedures en kan die reëls van die hof bepaal.

Die hoofregter van Namibië sit die hooggeregshof voor en appèlregters ondersteun hom.

Die president stel al die regters van die hooggeregshof op aanbeveling van die Regterlike Dienskommissie (JSC) aan.

“Gedurende die tydperk van 30 jaar, het regters van die hooggeregshof ’n oorvloed van sake behartig en hulle het besluite geneem wat die alledaagse lewens van individue en die funksionering van staatsinstellings beïnvloed het. Baie van die geregtelike werk gedurende hierdie tydperk was gerig op die gebruik van die Grondwet as ’n instrument om die welstand van individue te bevorder en die samelewing vir gemeenskaplike belang te transformeer.

“Die versameling artikels deur ons vooraanstaande bydraers tot hierdie boek, bevat sommige waterskeidingsbeslissings wat die hof geneem het,” luidens die voorwoord.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!