Die moordbeskuldigdes mnre. Marcus Thomas (links) en Kevan Townsend (middel) by Townsend se verteenwoordiger, mnr. Mbanga Siyomuinji. Foto Kristien Kruger
Die moordbeskuldigdes mnre. Marcus Thomas (links) en Kevan Townsend (middel) by Townsend se verteenwoordiger, mnr. Mbanga Siyomuinji. Foto Kristien Kruger

Regter laat nuwe bewysstuk toe

Heckmair-moordverhoor duur voort
'n Nuwe bewysstuk het tydens Vrydag se verrigtinge op die lappe gekom.
Kristien Kruger
’n Gedeelte van ’n kaart van Windhoek, wat die gebied insluit waar mnr. André Heckmair in sy voertuig geskiet is, is in die beskuldigdes se kamer in ’n gastehuis gevind.

So het inspekteur Felix Ndikoma Vrydag in die hoërhof in Windhoek getuig in die verhoor waarin twee Amerikaanse burgers, mnre. Kevan Towsend en Marcus Thomas, op moord teregstaan.

Dié spesifieke deel is klaarblyklik uit ’n groter kaart van die hoofstad uitgeskeur.

Omstredenheid heers van die begin van die verhoor oor die gebied waar Heckmair se liggaam in sy motor gevind is met een noodlottige koeëlwond in sy kop.

Volgens sy ma, Birgit, se getuienis het hy sy ouers by die Maerua Mall-inkoopsentrum afgelaai, waar hulle die restaurant Cattle Baron besit het. Daarna het hy vir hulle gesê hy is oppad na ’n middageteafspraak met twee Amerikaners.

Hy het glo ’n bespreking vir 13:00 by Stellenbosch Wine Bar in Klein Windhoek gehad.

Die polisie het omstreeks 14:00 Heckmair se suster gebel aangesien die voertuig in haar naam geregistreer was en Birgit en haar man het na die moordtoneel gehaas.

Heckmair se liggaam en die voertuig was nie by die eetplek of op die pad tussen die Maerua Mall-inkoopsentrum en die eetplek gevind nie, maar 2,5 km noord van die eetplek in Gusindestraat.

Thomas het verlede week getuig dat hy wel ’n middageteafpraak met Heckmair gehad het en glo in die parkeerterrein vir hom gewag het, maar hy het nooit opgedaag nie.

Townsend beweer hy het nie saam met Thomas na die afspraak gegaan nie, maar het by die gastehuis gebly.

KAART

Ndikoma het getuig hy het die kaart tydens ’n soektog op 9 Januarie 2011 in ’n bedkassie in die kamer gevind en hoewel die naam van die straat nie daarop aangedui is nie, is dieselfde gebied van Klein Windhoek waarin Gusindestraat geleë is, sigbaar op die kaart.

Thomas en Townsend se regsverteenwoordigers, mnre. Mbanga Siyomuinji en Salomon Kanyemba, het beswaar gemaak teen die inhandiging van dié kaart as bewysstuk in die hof.

Kanyemba het aangevoer dat die bewysstuk ongrontwetlik bekom is, omdat die beskuldigdes nie ten tyde van hul inhegtenisname op 7 Januarie, van hul regte ingelig is nie. Hy het verder beweer dat die bewysstukke nie korrek hanteer is nie en daar moontlik met die bewysstukke gepeuter is.

“Hulle het beswaar aangetekn omdat hulle eenvoudig nie van die bewysstukke hou nie,” het staatsaanklaer Antonia Verhoef gesê.

Regter Chistie Liebenberg het beslis dat die kaart wel as ’n bewysstuk toegelaat sal word.

“Die hof het reeds tydens ’n vorige binneverhoor beslis oor die toelaatbaarheid van die bewyse wat op 9 Januarie op beslag gelê is,” het hy gesê.

REGTE IS GLO VERDUIDELIK

Siyomuinji en Kanyemba het reeds verlede Maandag met die hervatting van die verhoor, ’n binneverhoor versoek in ’n poging om die bewysstukke wat tussen 7 en 9 Januarie 2011 op beslag gelê is, ontoelaatbaar te verklaar.

Hulle het aangevoer hoewel die twee mans reeds op 7 Januarie in hegtenis geneem is, is hulle regte eers op 13 Januarie aan hulle verduidelik.

Dié bewering is Vrydag tydens Ndikoma se hoofgetuienis weerspreek. Ndikoma het getuig dat hy op 7 Januarie hul regte aan hulle verduidelik het.

Die verhoor duur vandag voort.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!