Riedel-saak staan einde se kant toe

Ester Kamati
Die verhoor van die beskuldigdes wat teregstaan op die grumoord op ’n bejaarde egpaar staan einde se kant toe met partye wat tans hul slotbetoë in die hoërhof in Windhoek lewer.

Armin Riedel (68) en sy vrou, Brunhild (66), is in Januarie 2018 op hul plaas in die Gobabis-omgewing vermoor en hul liggame is binne-in die plaashuis verbrand.

Die twee moordbeskuldigdes, Bernadus Afrikaner (38) en Salaphual Unaeb (47), het gister weer in die hof verskyn.

Die staatsaanklaer Ethel Ndlovu, het beklemtoon dat Afrikaner en Unaeb op die Riedel-egpaar se plaas ten tyde van die moorde gewerk het en dat daar genoeg bewyse is om bo redelike twyfel die twee mans skuldig te bevind.

Ndlovu het tydens haar betoë benadruk dat die getuienisse van twee getuies, sowel as die bewyse wat ingesamel is, genoeg is om te bewys dat die twee beskuldigdes die bejaarde egpaar beroof en vermoor het.

Die getuies sluit ’n vriendin van Afrikaner in wat getuig het dat die beskuldigde diesel op sy klere gehad het toe hy dié noodlottige aand by die huis aangekom het. Sy het ook getuig dat hy daardie aand sy klere gewas het – iets wat volgens haar buitengewoon was.

Afrikaner het glo ook een keer vir haar gesê hy wil glo die bejaardes seermaak omdat hulle kom na bewering misbruik en soms nie betyds betaal nie.

Ndlovu het verder aangevoer die beskuldigdes het die plaashuis beroof en Afrikaner het glo vir ander mense opdrag gegee om van die gesteelde goedere – soos ’n mes, vuurwapen en ’n blou pak – namens hom te verkoop. Dié items is later geïdentifiseer as die eiendom van die bejaarde egpaar en hul kinders.

Nog ’n getuie wat saam met die twee beskuldigdes op die plaas gewerk het, het aan die hof gesê hy het gesien hoe die twee mans die aand van die voorval Brunhild aangeval en in die huis gedwing het. Hy het getuig die mans het haar met ’n ysterpyp gedreig.

Toe die mans ná die tyd besef dat hy hulle gesien het, het hulle hom glo gedreig om stil te bly. Sy het verder aangevoer dat die twee mans die huis doelbewus aan die brand gesteek het om van die bewyse ontslae te raak.

Ndlovu het ten slotte aangevoer die beskuldigdes se verklarings het tekort geskiet en dat die staatsgetuies geloofwaardig was. Sy het volgehou dat die twee mans skuldig bevind moet word op al die aanklagte waarop hulle teregstaan.

Afrikaner en Unaeb staan tereg op aanklagte van moord, diefstal, brandstigting, verkragting en dwarsboming van die gereg.



DUUR VANDAG VOORT

Die beskuldigdes se prokureur, Melissa Windisch, sal na verwagting vandag haar slotbetoë voor regter Naomi Shivute lewer.

Shivute sal daarna ’n datum skeduleer vir wanneer sy haar uitspraak oor die saak sal lewer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer