• Tuisblad
  • Howe
  • Rooilyn-stryd ‘oor waardigheid, nie net vleis’
Job Amupanda (regs) en een van sy regsverteenwoordigers, Kadhila Amoomo. Foto Rita Kakelo
Job Amupanda (regs) en een van sy regsverteenwoordigers, Kadhila Amoomo. Foto Rita Kakelo

Rooilyn-stryd ‘oor waardigheid, nie net vleis’

Rita Kakelo
Die stryd oor Namibië se veeartsenykordonheining – ook bekend as die Rooilyn – is tans in die kollig in Windhoek se hoërhof met aktivis Job Amupanda wat dit as een van waardigheid en geregtigheid beskou, eerder as bloot ’n kwessie van lewende hawe en handel.

Amupanda het gister die getuiebank voor regter Shafimana Ueitele ingeneem en vertel hoe sy stryd teen die “ongrondwetlike” Rooilyn aangevuur is deur ’n persoonlike ervaring in Mei 2021, toe beslag gelê is op vleis wat vir sy gesin in Windhoek bedoel was.

Amupanda het die Rooilyn beskryf as ’n “politieke grens” wat gewortel is in koloniale era-diskriminasie, wat meer as 60% van Namibië se bevolking raak.

“Die kern van hierdie saak is waardigheid en die volharding van praktyke van die koloniale era wat deur die die regime gehandhaaf word.”

Hy het bewerings dat die Rooilyn bloot oor die regulering van vleis en lewende hawe gaan, verwerp en die regering en sy agentskappe daarvan beskuldig dat hulle volhou met verouderde stelsels wat noordelike gemeenskappe marginaliseer.

Amupanda het ’n studie wat deur die regering aangevra is, aangehaal wat aandui dat die verwydering van die Rooilyn die plaaslike landbousektor aansienlik kan bevoordeel.

Die verslag het voorgestel dat landbou se bruto binnelandse produk (BBP), tans op 6%, tot 20% kan styg as boere noord van die Rooilyn toegang tot breër markte kry.



SPANNING NEEM TOE

Die dag se hofverrigtinge het begin met botsings tussen Ueitele en Amupanda se regspan, wat deur Mbushandje Ntinda gelei en deur Kadhila Amoomo bygestaan is.

Ntinda het ander partye se regsverteenwoordigers daarvan beskuldig dat hulle tydens ’n verdaging in kamers na hom en Amupanda as “poppe en lakeie” (puppets and stooges) verwys het.

Amupanda se span het ook Dinsdag ’n mondelinge aansoek gebring dat Ueitele om homself aan die saak moet onttrek met verwysing na moontlike vooroordeel.

Dié aansoek is egter later teruggetrek, met Ntinda wat verduidelik het dat hulle nie daarmee kan voortgaan nie.

Advokaat Raymond Heathcote, wat die Vleisraad van Namibië (nou die Lewende hawe en Lewendehaweprodukte Raad van Namibië) verteenwoordig, het Ntinda se benadering gekritiseer en dit as “onervare en jeugdig” bestempel.

Gister was daar weer eens prosedurele kwessies nadat Ntinda bewysstukke wou aanbied wat glo nie voor die tyd aan die ander partye openbaar gemaak is nie.

Ntinda het gepoog om ’n dokument as bewysstuk in te dien, maar Heathcote het beswaar daarteen gemaak.

Ntinda het aangevoer daar is geen reël wat vooraf kennisgewing van alle dokumente vereis nie. Ueitele het egter beslis dat dit onbillik en nadelig is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer