SA owerhede 'prosesseer' uitleweringsversoek vir De Klerk
Nuusredaksie
Die voortvlugtige regsman Marén de Klerk sal vandag weer in die landdroshof in die Paarl in die Wes-Kaap verskyn sodat 'n hofdatum vir sy aansoek om borgtog bepaal kan word. Dit nadat hy die afgelope Donderdag danksy puik samewerking tussen die Valke en Interpol aangekeer is.
De Klerk, die Namibiese prokureur wat glo die sogenaamde “betaalmeester” in die Fishrot-korrupsieskandaal was, het reeds die afgelope Vrydag sy eerste hofverskyning in Suid-Afrika gemaak nadat hy Donderdag in hegtenis geneem is. Volgens Mail & Guardian het De Klerk vrywilliglik ingestem om wetstoepassers te ontmoet vir ‘n vergadering oor ‘n geskorste Suid-Afrikaanse prokureur wat hom (De Klerk) glo uit miljoene verkul het, toe hy gevang is.
Daar is ook beslag gelê op ‘n selfoon en ‘n rekenaar wat hy in sy besit gehad het en waarvan die inhoud verder ondersoek sal word.
Intussen het die Suid-Afrikaanse departement van korrektiewe dienste aangedui die Namibiese owerhede se aansoek om De Klerk se uitlewering sal verder geprosesseer word.
Die verwikkeling kom nadat Interpol ‘n sogenaamde rooi kennisgewing vir De Klerk se inhegtenisname uitgereik het. Die kennisgewing het gevolg op die landdroshof in die Paarl se lasbrief vir De Klerk, wat in 2022 uitgereik is nadat ‘n versoek vir sy uitlewering reeds op 15 Oktober 2021 vanaf die kantoor van die aanklaer-generaal in Namibië ontvang is.
Die Suid-Afrikaanse ministerie van justisie en korrektiewe dienste het in ‘n mediaverklaring in Julie verlede jaar aangedui dat Namibiese owerhede hom soek om op klagte van onder meer rampokkery, sameswering om ‘n misdaad te pleeg, bedrog, diefstal en geldwassery verhoor te word.
‘INGELOOP’
De Klerk het verskeie sosialemedia-inskrywings oor ene Ben van Heerden gemaak, teen wie hy glo strafregtelike klagte gelê het nadat versoeke om betalings uit sy trustrekening te maak, nie uitgevoer is nie. Van Heerden het glo regsdienste aangebied terwyl hy reeds in 2016 geskors is en daarna van die Suid-Afrikaanse prokureursrol geskrap is.
In ‘n inskrywing op De Klerk se Facebookblad die afgelope Donderdag is daar ook ‘n skakel gedeel na ‘n artikel oor ‘n geskorste prokureur se beweerde bedrywighede, met De Klerk wat daarby geskryf het: “Dié keer het hulle my genoem asook die enorme som geld wat die man van my gesteel het.”
Die polisie in die Paarl het in Februarie van De Klerk se situasie bewus geword nadat hy die klag teen Van Heerden gelê het, waarna die dossier na die Valke aangestuur is.
De Klerk het glo, nadat hy in 2020 na Suid-Afrika gevlug het “uit vrees vir sy lewe”, meer as R3 miljoen oorbetaal in ‘n Suid-Afrikaanse trustrekening wat volgens sy kennis deur Van Heerden bestuur is.
De Klerk beweer Van Heerden het nie gereageer op talle versoeke om betalings aan hom uit die trustrekening te maak nie, ten spyte van talle beloftes.
De Klerk het glo die saak teen Van Heerden laat eskaleer deur dit onder die direkteur van openbare vervolgings in die Wes-Kaap se aandag te bring.
FISHROT
De Klerk word daarvan verdink dat hy sy eie trustrekening gebruik het vir die verspreiding en uitbetalings van Fishrot-geld. Daar word verder beweer dat sy regsfirma N$17 miljoen van die fondse gebruik het vir betalings aan Swapo-lede tydens die kongres van 2017.
In ‘n beëdigde verklaring van meer as 500 bladsye sê De Klerk hy het onwetend aan die misdrywe deelgeneem. Hy het in 2020, terwyl ander betrokkenes in die Fishrot-skandaal in hegtenis geneem is, na Suid-Afrika gevlug.
De Klerk het vantevore gesê hy is nie ’n voortvlugtige nie, maar eerder ‘n hokaairoeper wat nou moet wegkruip nadat hy prominente Namibiese politici se name by die Fishrot-korrupsiesaak betrek het, wat glo dié van president Hage Geingob insluit.
Hy het ook aangebied om met behulp ‘n video-skakel in die Namibiese hof in die Fishrot-saak te getuig, maar Namibiese owerhede het die aanbod van die hand gewys.
Hy het toe ook gesê die Suid-Afrikaanse owerhede weet waar hy is.
In nog ‘n saak wat teen einde Maart in die hoërhof in Windhoek aanhanging gemaak is, vra De Klerk dat 'n bewaringsbevel oor ‘n bankrekening in sy naam asook nog een in die naam van sy vorige firma, De Klerk, Horn & Coetzee (DHC) Inc., tersyde gestel moet word.
Die bevel is op 2 Desember verlede jaar uitgereik ingevolge die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad. Daar is onderskeidelik N$1,8 miljoen en N$4,7 miljoen in die twee rekeninge.
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie