Willem Beukes, ’n voormalige lid van die destydse Suidwes-Afrikaanse Gebiedsmag (SWATF). Foto Argief
Willem Beukes, ’n voormalige lid van die destydse Suidwes-Afrikaanse Gebiedsmag (SWATF). Foto Argief

Saak teen veteranewet gaan voort

Partye verskyn weer op 26 Julie
Beukes het vandeesweek bevestig dat hy sal voortgaan met sy saak teen die regering.
Kristien Kruger
Die saak waarin Namibië se wet op veterane uitgedaag word op grond van die bewering dat dit diskriminerend is deurdat dit slegs die bevrydingsvegters van PLAN bevoordeel, duur voort ondanks ʼn versoek dat die applikant die saak moet terugtrek.

’n Voormalige lid van die destydse Suidwes-Afrikaanse Gebiedsmag (SWATF), Willem Beukes, het in Mei die saak teen die regering by die hoërhof in Windhoek aanhangig gemaak en beweer die huidige regering maak gereeld lasterlike aantygings, soos die stelling dat hulle aan die verkeerde kant geveg het tydens die bevrydingstryd. Die SWATF is as tweede applikant in die aansoek gelys.

Ná die aansoek gebring is, het die Verenigde SWATF Veterane-organisasie van Namibië betrokke geraak en deur middel van ’n hofdokument aangevoer dat Beukes die saak moet terugtrek omdat hy glo nie dié organisasie se toestemming of goedkeuring gehad het om die aansoek te bring nie.

Die hof het egter bevind die organisasie het nie die mag om van Beukes te vereis om sy aansoek terug te trek nie.

“'n Kennisgewing van terugtrekking is deur ander persone as die applikant gebring en die hof is nie in staat om op grond van daardie dokument op te tree nie,” lui die hofbevel.

Beukes het aan Republikein bevestig dat hy sal voorgaan met sy aansoek waarin hy die hof versoek om die Wet op Veterane van 2008 en die Wysigingswet op Veterane 3 van 2013 te hersien.

‘VERPLIGTINGE NAGEKOM’

In Beukes se verklaring voer hy aan die veteranewet is in stryd met die Namibiese Grondwet wat eenheid, vryheid, vrede en stabiliteit bevorder.

“Die applikante het hul verpligtinge nagekom om die gebied wat nou as Namibië beskou word, te beskerm teen gevorderde militêre reuse soos die Russiese, Kubaanse, Angolese en Portugese weermagte, om net ’n paar te noem,” lui Beukes se verklaring.

Hy wys ook daarop dat die huidige administrasie ’n goeie infrastruktuur kon oorneem aangesien die SWATF na bewering hul verpligtinge nagekom het om die infrastruktuur van Namibië te beskerm, selfs tydens ’n gevaarlike oorlog.

Partye sal op 26 Julie weer in die voor regter Claudia Claasen verskyn vir voorverhoorverrigtinge.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!