Adv. Vas Soni (SC) foto eNCA
Adv. Vas Soni (SC) foto eNCA

Sacky se advokaat looi ondersoekbeampte

Jemima Beukes
‘n Ondersoekbeampte van die Teenkorrupsie Kommissie (ACC) in die Fishrotsaak, mnr. Andreas Kanyangela, moes gister bontstaan tydens sy kruisondervraging in die Windhoekse hoërhof deur senior adv. Vas Soni (SC) van Suid-Afrika.

Soni tree op namens die voormalige minister van justisie en prokureur-generaal, mnr. Sacky Shanghala.

Hy het Kanyangela herhaaldelik oor die kole gehaal oor hoe hy borgtog vir sy kliënt kan teenstaan indien hy geen moeite gedoen het om die gronde vir die aansoek te ondersoek nie.

Die speurder het toegegee dat hy nie die bewerings in Shanghala se eedsverklaring nagegaan het nie. Hieronder tel omstandighede in die hoofstad se gevangenis, wat volgens Soni nie voorsiening maak vir die gesofistikeerde behandeling wat die oudminister vir sy slaapapnee en ander, ernstige mediese toestande benodig nie.

Die advokaat het aangevoer dat elke feit wat in Shanghala se guns tel doelbewus geïgnoreer is.

Hoewel die oudminister en Shanghala van dieselfde nedersetting afkomstig is, het Soni uitgewys dat Kanyangela nie eens die beskuldigde se bejaarde vader en oupa besoek het om te sien hoe swaar hulle kry sonder Shanghala se bystand nie.

HOKAAIROEPER

Soni het ook uitgewys dat Kanyangela nooit direk in kontak of gesprek met die staat se hokaairoeper, Yslander Johannes Stefansson, getree het nie.

Die ondersoekbeampte het gesê hy het nog nooit gehoor dat Stefansson glo ‘n “selferkende misdadiger” is nie en daarom ook nie die aantyging ondersoek nie. Volgens Kanyangela kan die staat sy saak sonder Stefansson se getuienis bewys.

Oor Stefansson het Soni opgemerk: “Hy is ‘n medepligtige, ‘n intieme medepligtige wie se getuienis redelik deurslaggewend is en as hy skuldig bevind word, sal hy tronk toe gestuur word, dus is daar baie min aansporing vir mnr. Stefansson om te kom getuig.”

Kanyangela het bevestig dat sy vrou, Justine, tans as die ACC se mees senior speurder waarneem en dat hy aan haar as sy senior rapporteer. Hy kon nie verduidelik hoekom hy die hof nie voorheen hieroor ingelig het nie.

Volgens Kanyangela het hy en sy vrou deurlopend die saak met mekaar bespreek, maar is formele besluite soos die oor inhegtenisnemings en lasbriewe met regslui uitgeklaar.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!