Die Fishrot-beskuldigde, mnr. Tamson (Fitty) Hatuikulipi met sy regsverteenwoordiger, mnr. Florian Beukes. Foto Kristien Kruger
Die Fishrot-beskuldigde, mnr. Tamson (Fitty) Hatuikulipi met sy regsverteenwoordiger, mnr. Florian Beukes. Foto Kristien Kruger

Samherji kry hulp van ‘Fitty’

Kristien Kruger
Een van die Fishrot-beskuldigdes, mnr. Tamson (Fitty) Hatuikulipi, het tydens sy aansoek om borgtog wat gister in die hoërhof in Windhoek begin het, erken dat hy die persoon was wat die Yslandse Samherji-groep ’n voet in die Namibiese visbedryf se deur gegee het.

“Ek het Samherji gehelp om met nuwe Namibiese houers van visvangregte saam te werk om hulle viskwotas te vang,” het Hatuikulipi getuig.

Hy het getuig dat hy in 2011 aan die Yslander mnr. Jóhannes Stefánsson, wat nou as die hokaairoeper en die staat se sleutelgetuie bekend is, voorgestel is.

Kort daarna het hulle ’n Ooreenkoms van Verstandhouding (MoU) onderteken. Dié ooreenkoms het bepaal dat Hatuikulipi die Yslandse visgroep sal help deur Namibiese houers van visvangregte te identifiseer en hulle te oortuig om ooreenkomste met Samherji aan te gaan om hul kwotas te vang.

Dié visgroep, een van die grootste ter wêreld, word daarvan beskuldig dat hulle omkoopgeld vir visvangregte en kwotas aan die staatsbeheerde National Fishing Corporation of Namibia (Fishcor), asook aan Namgomar Namibia betaal het wat kwotas op grond van die bilaterale ooreenkomste tussen Namibië en Angola beheer het.

Hatuikulipi het verduidelik dat slegs Namibiese maatskappye visvangregte kan ontvang en net mense met regte ontvang kwotas van die ministerie, maar ooreenkomste mag glo met buitelanders aangegaan word om dié kwotas te vang.

Hatuikulipi het sy neef en nou medebeskuldigde, mnr. James Hatuikulipi, glo genader om hom hiermee te help aangesien hy na bewering meer kennis oor die visbedryf gehad het. James was destyds die voorsitter van Fishcor.

Die geld wat Hatuikulipi hiervoor ontvang het, is glo na sy verskillende maatskappye oorbetaal.

“In Januarie 2012 het hulle ’n vooruitbetaling van N$300 000 aan my gemaak. Die geld is na my besigheid, Fitty entertainment cc, oorbetaal.”

Volgens Hatuikulipi se getuienis het die Yslanders hom glo genader om hulle te help om ook by Angolese waters in te kom.

Hatuikulipi het sy medebeskuldigde, mnr. Ricardo Gustavo, gekontak omdat hy glo geweet het hy is betrokke by die visbedryf in Angola.

Gustavo was destyds die voorsitter van Namgomar Pesca Namibia en hulle het volgens Tamson verspreidingsprobleme ervaar.

Tamson beweer nadat Namibië sy buitelandse valutaregulasies verander het, het baie mense na Angola gedraai vir die verskaffing van gevriesde vis.

Namgomar en Tamson het glo ’n ooreenkoms aangegaan en Tamson het sy kliëntelys van mense wat opsoek was na gevriesde vis in Angola met hulle gedeel.

Namgomar het glo N$400 000 aan Tamson se maatskappy, Erongo Clearing and Forwarding, betaal.

“Stefánsson het vir my gesê Gustavo het hom gehelp om vergaderings met kwotahouers in Angola te reël. Hierna is Angolese vennote gewerf,” het Tamson getuig.

Tamson het in 2013, op Samherji se onkoste, Ysland besoek en daar het hy die Angolese vennote, mnre. Joe de Barros en Antonio de Santos, ontmoet.

Medebeskuldigdes mnre. James Hatuikulipi en Sacky Shangala was ook teenwoordig.

BORGTOGAANSOEK

Die nuwe gronde waarop Hatuikulipi en sy regsverteenwoordigers steun om dié keer om borgtog aansoek te doen, is gister in die hof bekend gemaak.

Eerstens het hulle uitgelig dat die ondersoek afgehandel is en die applikant daarom nie meer met die ondersoek kan inmeng nie.

Hulle beweer ook dat die staat nie ’n sterk saak teen Hatuikulipi het nie en dat hy reeds twee jaar in aanhouding is, asook dat die hoofverhoor baie lank sal duur en dit inbreuk op sy reg tot ’n vinnige verhoor maak.

Sy regsverteenwoordigers het ook aangedui dat die staat intussen nuwe klagte bygevoeg het en die applikant se persoonlike omstandighede spoedig agteruitgegaan het sedert sy vorige aansoek om borgtog.

STAAT HET ‘STERK SAAK’

Die staat beweer hulle het ’n sterk saak teen die applikant.

Die aard van die klagte is so ernstig dat indien hy skuldig bevind word hy ’n swaar vonnis opgelê sal word en dit kan bydrae tot die waarskynlikheid dat die applikant sal vlug indien hy op borgtog vrygelaat word.

“Ek is van voorneme om my verhoor by te woon. Ek sal nie weg hardloop nie, want ek is onskuldig,” het Tamson getuig.

Hulle beweer verder die risiko bestaan steeds dat hy by die bewyse en die getuies sal inmeng en dat Tamson se vrylating nie in openbare belang of regsplegings sal wees nie.

Tamson se getuienis is nog nie afgehandel nie en sal môreooggend omstreeks 10:00 hervat.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!