Die Britse miljardêr, Harvey Boulter. Foto argief
Die Britse miljardêr, Harvey Boulter. Foto argief

Saoedi-Arabiërs faal in eis teen Boulter

Kristien Kruger
Vyf sakelui van Saoedi-Arabië het gefaal in hul hofaansoek teen Harvey Boulter vir die betaling van sowat N$54 miljoen.

Hulle het die hoërhof in Windhoek verlede jaar genader en versoek dat ’n hofbevel wat in Dubai uitgereik is – waarin dit beslis is dat die Britse miljardêr hulle 2,35 miljoen Britse pond moes betaal – ook in Namibië van krag moet wees.

Regter Eileen Rakow het die aansoek Vrydag van die hand gewys op grond van Boulter se verweer dat die buitelandse uitspraak nie in Namibië erken word nie.

“Dit is belangrik om daarop te let dat hierdie dagvaarding nie deur die Wet op die Afdwinging van Buitelandse Siviele Vonnisse 28 van 1994 beheer word nie, aangesien dit nie die registrasie van 'n buitelandse vonnis ingevolge die bepalings van die wet versoek nie, aangesien die wet slegs voorsiening maak vir die registrasie van siviele vonnisse van sekere lande,” het sy in haar uitspraak gesê.

Rakow het gevolglik Boulter se aansoek om eksepsie ten opsigte van die buitelandse uitspraak toegestaan en die hof die Saoedi-Arabiërs se eis van die hand gewys as gevolg van onvoldoende bewys wat gelewer is.



EIS BETALING

Vier sakemanne, een sakevrou en ’n Saoedi-Arabiese maatskappy voer aan dat Boulter hulle oortuig het om in sy besighede te belê. Hy het hulle glo oortuig dat die besighede geweldig suksesvol en winsgewend is en dat hul beleggings sou gebruik word vir die bedrywighede van die maatskappye en eisers se fondse met winste en rente terugbetaal sou word. Hulle beweer dat hierdie voorstellings vals was en dat verskeie bedrae geld oorbetaal is na aanleiding van hierdie wanvoorstellings.

Daarna het hulle in 2019 ’n hof in Dubai genader wat ten gunste van hulle bevind het en beveel het dat Boulter die 2,35 miljoen Britse pond moet terugbetaal.

Hulle het verlede jaar die hoërhof in Windhoek genader met Sisa Namandje as regsverteenwoordiger, in ’n poging om dié uitspraak van Dubai ook in Namibië te laat geld.

Boutler, wat deur onder andere Richard Metcalf verteenwoordig is, het tydens die verrigtinge aangevoer dat die sakelui poog om ’n buitelandse uitspraak af te dwing sonder dat dit in Namibië erken word.

“Die hof het geen mag om hierdie saak te hanteer voordat die vonnis erken word nie.”



UITSPRAAK

Rakow het verder bevind dat daar geen notariële dokumentasie saam met die uitspraak ingedien is wat die uitspraak sertifiseer en bewys dat dit wel toegestaan is nie.

“Alhoewel die aanduiding van sodanige sertifisering in die eisbesonderhede gemaak word, is dit nooit verskaf nie.”

“Dit is ook nie duidelik of die eis vir die afdwinging van ’n vonnis is en of dit ’n eis is vir gelde wat betaal moet word nie,” lui Rakow se uitspraak.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 35° Oshakati: 24° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 23° | 34° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 18° | 24° Swakopmund: 17° | 19° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 24° | 36° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 17° | 26° Ariamsvlei: 25° | 39° Oranjemund: 18° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 21° | 34° Lubumbashi: 16° | 21° Mbabane: 15° | 25° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 18° | 25° Lilongwe: 18° | 23° Maputo: 22° | 33° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 19° | 30° Durban: 20° | 27° Johannesburg: 16° | 30° Dar es Salaam: 25° | 33° Lusaka: 18° | 22° Harare: 16° | 23° #REF! #REF!