• Tuisblad
  • Howe
  • Sheehama-moord: Sewe bly (vir nou) agter tralies

Sheehama-moord: Sewe bly (vir nou) agter tralies

Staatsaanklaer word 'oornag' siek
Hofverrigtinge in die borgtogaansoek in die Matheus Sheehama-moordsaak is tot Februarie uitgestel.
Leandrea mouers
Die sewe mense wat daarvan beskuldig word dat hulle die student Matheus Sheehama in Julie 2024 in Kuisebmond in Walvisbaai vermoor het, sal tot volgende maand moet wag om hul borgtogaansoek af te handel.

Die saak het verlede Woensdag begin en is onverwags uitgestel weens die staatsaanklaer wat Donderdag siek geword het. Verrigtinge is geskeduleer om op 11, 13 en 14 Februarie in die Walvisbaai-landdroshof hervat.

Landdros Rosalia Andimba het beveel dat die sewe verdagtes vir tyd en wyl in aahouding bly.

Sheehama is na bewering aangerand en het toe spoorloos verdwyn op 27 Julie 2024. Sy lyk is dae later op 31 Julie 2024 by Independence Beach ontdek. Sewe verdagtes is in hegtenis geneem op aanklagte van moord en dwarsboming van die gereg.

Die beskuldigdes is Mervin Wapota, Jimmy Gaeb, Romano Paulus, Enrico Gomachab, Michael Zoram Awaseb, Jessica !Gaes (wat destyds Sheehama se meisie was) en Moses Kandume.

"Dit is toevallig dat die staatsaanklaer siek is, terwyl ons gereed is om voort te gaan," het advokaat Slysken Makanda – wat Wapota, Paulus en Gomachab verteenwoordig – gesê en bygevoeg dat die geskeduleerde datums in orde is.

Albert Titus verteenwoordig Kandume en hy het bygevoeg dat hy eers die oggend ingelig is dat die aanklaer "skynbaar siek geword het, vermoedelik oornag".

"Dit is effens teleurstellend, want ons wou hê dat hierdie saak moet voortgaan. Ons verstaan egter die redenasie. Ons het geen beswaar teen die uitstel nie," het hy gesê.

Barry Rukoro, wat die broer en suster Gaeb en Gaes verteenwoordig, het ook aangedui dat hy op die genoemde datums beskikbaar is om met die aansoek voort te gaan.



REGSHULP

’n Afsonderlike hofdatum is vir Awaseb geskeduleer omdat hy nog regshulp moet verkry. Hy het tydens verrigtinge vir Andima gevra of die borggeld van ’n vorige saak aan hom terugbetaal kan word sodat hy dit kan gebruik om vir regshulp te betaal. Andima het hom egter aangeraai om die vervolgingsgesag daarmee te nader.

Slegs Wapota het tot dusver in die formele borgtogaansoek getuig en aangevoer dat hy bloot ’n bystander was van ’n bakleiery wat na bewering tussen Sheehama en Awaseb (een van die beskuldigdes) plaasgevind het.

Die staat word deur Annakleta Kandjimi verteenwoordig.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 35° Oshakati: 24° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 23° | 34° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 18° | 24° Swakopmund: 17° | 19° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 24° | 36° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 17° | 26° Ariamsvlei: 25° | 39° Oranjemund: 18° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 21° | 34° Lubumbashi: 16° | 21° Mbabane: 15° | 25° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 18° | 25° Lilongwe: 18° | 23° Maputo: 22° | 33° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 19° | 30° Durban: 20° | 27° Johannesburg: 16° | 30° Dar es Salaam: 25° | 33° Lusaka: 18° | 22° Harare: 16° | 23° #REF! #REF!