Shilimela se vrou faal in saak teen NamRA

Dringende aansoek van die hand gewys
Jan Taks het die bankrekeninge van Esser Naukosho gevries aangesien dit na bewering as 'n kanaal gebruik is om belasting van sowat N$21 miljoen te ontduik.
Rita Kakelo
Die sakevrou Esser Naukosho het misluk in ’n dringende aansoek teen die Namibië Inkomste-agentskap (NamRA) wat van haar bankrekeninge gevries het op grond van beweerde uitstaande belasting op toegevoegde waarde (BTW) ten bedrae van sowat N$21 miljoen.

Naukosho is die vrou van die sakeman Banda Shilimela en sy het dié aansoek in Oktober vanjaar gebring.

Sy het gepoog om NamRA se besluit om vier van haar rekeninge te vries en geld daaruit te onttrek, tersyde te laat stel.

Regter Kobus Miller het Maandag in die hoërhof in Windhoek beslis dat Naukosho se aansoek nie aan die toets van dringendheid voldoen het nie.

Hy het gevolglik die aansoek van die hand gewys en van die rol geskrap. Hy het verder beveel dat Naukosho ook NamRA se regskoste vir die aansoek moet betaal.



ONDERSOEK

“Ek het geen manier om myself te onderhou nie. Die gevolge van NamRA se optrede is en sal vir my verwoestend wees,” het Naukosho in die aansoek teen NamRA beweer.

NamRA het die aansoek teengestaan en volgehou dat Naukosho en Shilimela reeds sedert 2022 bewus is van die BTW-verpligtinge, lank voordat die bankrekeninge op 8 Oktober gevries is.

Volgens die verklaring van NamRA se kommissaris Sam Shivute wat by die hof ingedien is, is ’n ondersoek na Naukosho in 2022 van stapel gestuur waartydens bevind is dat haar persoonlike rekeninge na bewering as ’n kanaal gebruik is om verskeie betalings namens haar man se besigheid, Shilimela Security and Debt Collection, uit te voer.

Ná die ondersoek het NamRA aan FNB Namibia opdrag gegee om Naukosho se rekeninge te vries met die vereiste dat enige inkomende geld onmiddellik na ’n staatsrekening oorgeplaas moet word totdat die volle balans van die beweerde belastingskuld vereffen is.

Shivute het verduidelik dat belastingwetgewing gades as aparte belastingbetalers beskou – selfs al is hulle binne gemeenskap van goedere getroud.

“Om geld weg te steek of na ’n ander persoon se bankrekening te herlei is ’n daad om die ware bron van geld te verberg wat behoorlik verklaar moes word en aan belastingaanslae onderwerp moes word,” het hy gesê.

Hy het ook bygevoeg dat Shilimela Security and Debt Collection na bewering Naukosho se rekeninge vir saketransaksies gebruik het sonder om aan die BTW-vereistes te voldoen.

“[Naukosho], wat toegelaat het dat haar rekening deur [die besigheid gebruik word], skuld NamRA meer as N$20 miljoen.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 37° Rundu: 21° | 32° Eenhana: 21° | 26° Oshakati: 21° | 29° Ruacana: 21° | 31° Tsumeb: 19° | 24° Otjiwarongo: 19° | 25° Omaruru: 21° | 32° Windhoek: 18° | 30° Gobabis: 20° | 29° Henties Bay: 17° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 16° | 26° Ariamsvlei: 24° | 40° Oranjemund: 17° | 22° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 25° Lubumbashi: 16° | 32° Mbabane: 18° | 29° Maseru: 16° | 29° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 36° Windhoek: 18° | 30° Cape Town: 18° | 23° Durban: 21° | 26° Johannesburg: 16° | 18° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 35° Harare: 20° | 32° #REF! #REF!