• Tuisblad
  • Howe
  • Sieklike Mwilima bly (vir nou) agter tralies
Die voormalige lid van die Nasionale Vergadering, Geoffrey Mwilima (67). Foto Argief
Die voormalige lid van die Nasionale Vergadering, Geoffrey Mwilima (67). Foto Argief

Sieklike Mwilima bly (vir nou) agter tralies

Reeds 23 jaar in aanhouding vir hoogverraad
'n Oudlid van die Nasionale Vergadering se dringende aansoek vir 'n tussentydse interdik teen die ministerie van binnelandse sake is Vrydag van die hand gewys.
Kristien Kruger
’n Voormalige lid van die Nasionale Vergadering wat aan ernstige gesondheidskwale ly, se versoek aan die hoërhof in Windhoek vir ’n tussentydse interdik teen die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit vir sy onmiddellike vrylating, is Vrydag van die hand gewys.

Geoffrey Mwilima (67) is reeds 23 jaar in aanhouding by die Windhoek Sentrale Gevangenis vir hoogverraad vir sy betrokkenheid by ’n komplot om die destydse Caprivistrook van Namibië af te stig.

Mwilima ly aan diabetes mellitus en chroniese nierversaking, asook hipertensie, epilepsie en hipercholesterolemie. Hy wil op grond van Artikel 109 van die Wet op Korrektiewe Dienste no. 9 van 2012 uit aanhouding vrygelaat word.

Die wet bepaal ’n gevangene kan vrygelaat word indien dit vasgestel kan word dat hy aan ’n ernstige siekte ly en sy voortgesette aanhouding nadelig vir sy gesondheid kan wees.

Dit is op grond hiervan dat regter Esi Schimming-Chase op 14 November 2022 ’n hofbevel uitgereik het wat die minister verplig om Mwilima se vrylating goed te keur, indien ’n mediese praktisyn kan bepaal of hy wel aan ernstige siektes ly.

Dr. Tony Lumbindi, ’n mediese praktisyn by die Windhoek Sentrale Gevangenis, het op 19 Desember 2022 ’n brief aan die ministerie gestuur oor Mwilima se mediese toestand.

“Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) beskou diabetes mellitus as nommer 9 en niersiektes as nommer 10 op die lys van die grootste oorsake van sterftes ter wêreld. Hy (Mwilima) ly dus aan dodelike siektes,” lui Lumbindi se verslag.

“Sy voortgesette aanhouding sal wel nie sy gesondheid benadeel nie, om die eenvoudige rede dat hy toegang het tot gereelde dialisesessies en tot sy private dokter wanneer dit nodig is.”

Mwilima se regsverteenwoordiger het aangevoer die vasstelling dat Mwilima wel aan dodelike siektes ly, voldoen aan die vereiste vir sy vrylating soos in die wet uiteengesit.

Hy het gesê dat Mwilima veronderstel was om op grond van Lumbindi se brief vrygelaat te word en daarom vra hy die hof se dringende ingryping om die minister te beveel om hom vry te laat.

Die minister het wel aangevoer Lumbindi se brief was nie ’n aanbeveling nie en dat hy die diskresionêre mag het om ’n gevangene vry te laat. Hy sal dit eers doen wanneer hy ’n aanbeveling van die mediese praktisyn ontvang het en dat Mwilima vir tyd en wyl in aanhouding moet bly.

Lumbindi het erken die brief was nie ’n aanbeveling nie.

UITSPRAAK

Regter Marlene Tommasi het in haar uitspraak daarop gewys dat artikel 109 geen optrede deur die minister vereis in die afwesigheid van ’n aanbeveling deur ’n mediese praktisyn nie.

“Hierdie hof kan nie met ’n goeie gewete ’n bevel toestaan wanneer daar ’n duidelike aanduiding is dat hierdie hof daardeur die eerste respondent (minister) sal verplig om op te tree sonder die vereiste aanbeveling deur die tweede respondent (Lumbindi),” lui haar uitspraak.

Hoewel Mwilima se dringende aansoek vir ’n tussentydse interdik vir sy vrylating van die hand gewys is, sal hy in ’n hersieningsaansoek die hof versoek om die minister se besluit om hom nie vry te laat nie, te hersien en tersyde te stel.

Mwilima is sedert Augustus 1999 in aanhouding nadat hy in hegtenis geneem is ná ’n gewapende verrassingsaanvalle op regeringsverwante teikens by Katima Mulilo in die Caprivistreek.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 30° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 19° | 34° Oshakati: 21° | 33° Ruacana: 17° | 34° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 15° | 32° Windhoek: 17° | 30° Gobabis: 21° | 32° Henties Bay: 16° | 19° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 17° | 31° Mariental: 17° | 31° Keetmanshoop: 14° | 29° Aranos: 20° | 31° Lüderitz: 15° | 27° Ariamsvlei: 15° | 29° Oranjemund: 15° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 31° Lubumbashi: 17° | 24° Mbabane: 16° | 29° Maseru: 13° | 30° Antananarivo: 17° | 26° Lilongwe: 21° | 29° Maputo: 22° | 33° Windhoek: 17° | 30° Cape Town: 15° | 19° Durban: 17° | 25° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 18° | 27° Harare: 18° | 25° #REF! #REF!