Skoen- en wielspore onder die loep
Lichtenstrasser-moordverhoor
Twee staatsgetuies vertel oor hul aandeel in die ontdekking van 'n geweer en ammunisie wat in die woestyn begrawe was.
Die verhoor van mnr. Ernst Lichtenstrasser het Maandag ná ’n vier maande lange breek hervat en die fokus is op die ammunisie en vuurwapen wat in die woestyn gevind is.
Inspekteur Job Kauvi het gister die getuiebank ingeneem. Hy was destyds verantwoordelik om foto’s van die wiel- en skoenspore op die misdaadtoneel en in die woestyn te neem. Hy kon egter nie gipsafdrukke hiervan maak nie.
Op 18 Mei 2019, ’n maand ná die dubbele moord op die Namibië Instituut vir Mynbou en Tegnologie (Nimt) se uitvoerende direkteur, mnr. Eckhart Mueller (72), en sy adjunk, mnr. Heimo Hellwig (60) op die Arandis-kampus, is Kauvi van Windhoek na Arandis gestuur.
Polisiebeamptes het die grondpaaie naby die moordtoneel vir leidrade fyngekam.
’n Voertuig se wielspore het hulle na ’n geweer gelei wat sowat 25,6 km van die moordtoneel in die sand begrawe was.
Hoewel die wiel- en voetspore, wat glo omtrent 'n maand vantevore in die sand gemaak is, albei gedeeltelik na Lichtenstrasser en sy voertuig gewys het, kon dit nie met 100% sekerheid vasgestel word nie.
Met die hulp van Kauvi se foto’s is vasgestel dat die voertuig se bande onder die aanvaarbare wetlike standaard was en die skoenafdrukke het verslete kolle getoon.
Die tweede getuie wat gister die bank ingeneem het, was adjunkkommissaris Paulus Katopi wat deel was van die span wat die spore gevolg en op die versteekte bewyse afgekom het.
“Ek het die spore gevolg tot by ’n klipperige heuweltjie. Ek het gesien sommige van die klippe is geskuif,” het hy getuig.
Volgens sy getuienis het hy onmiddellik die plofstofeenheid in kennis gestel en hulle het met ’n metaalverklikker die gebied deursoek. Die metaalverklikker het aangedui dat daar metaal onder die grond was.
Hierna het hulle die ammunisie en geweer gevind.
Die verhoor duur vandag voor regter Christie Liebenberg voort.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie