Privaatskool Savo Nuts Foto savonuts.com
Privaatskool Savo Nuts Foto savonuts.com

Skool wil moontlike deregistrasie beveg

Partye verskyn vandag in hof
'n Skool wat ondersoek is vir beweerde wanpraktyke tydens verlede jaar se NSSCO-eksamens het verlede week 'n dringende aansoek in die hof teen die ministerie gebring.
Kristien Kruger
Die ministerie van onderwys, kuns en kultuur dreig om ’n private skool op Oshikango te deregistreer op grond van bewerings van wanpraktyke tydens verlede jaar se graad 11 Nasionale Senior Sekondêre Sertifikaat Gewone Vlak (NSSCO)-eksamens.

Die Privaatskool Savo Nuts word intussen daarvan weerhou om graad 11- en 12-kandidate vir die NSSCO en die Nasionale Senior Sekondêre Sertifikaat Gevorderde Vlak (NSSCAS) by die ministerie te registreer vir die komende akademiese jaar.

Volgens inligting wat Savo Nuts se besturende direkteur, Shingirai Mbuzi, glo verlede week ontvang het, beplan die ministerie se adjunkdirekteur in die Ohangwenastreek, Ngulu Palisha, na bewering om 19 van die skool se voltydse kandidate by ander skole in te skryf aangesien die ministerie die skool wil deregistreer.

Die skool en Mbuzi het op grond hiervan verlede week ’n dringende aansoek by die hoërhof in Windhoek aanhangig gemaak en Vrydag voor regter Kobus Miller verskyn.

Die skool soek ’n tussentydse interdik wat die ministerie en die nasionale eksamen-, assesserings- en sertifiseringsraad verbied om enige van sy graad 11- en 12-leerlinge in ander skole te plaas hangende die afhandeling van die dispuut rakend die skool se moontlike deregistrasie.

Hulle soek ook ’n bevel wat die ministerie verplig om hulle toe te laat om kandidate te registreer hangende die uitkoms van die kwessie en dat alle uitstaande uitslae van sy kandidate wat die eksamen in Oktober en November in 2023 afgelê het, bekend gemaak moet word.

Die skool versoek ook die hof om die ministerie te beveel om die dokumente en inligting waarop hy in sy ondersoek gesteun het na die beweerde wanpraktyke aan hulle te verskaf.

AGTERGROND

Altesaam 46 deeltydse en voltydse leerlinge van die skool het verlede jaar se NSSCO-eksamens afgelê.

Die uitslae is op 12 Januarie vrygestel, maar sommige van die skool se kandidate se uitslae vir sekere vakke, soos onder meer rekeningkunde, landbou, biologie, besigheidstudies, chemie, ekonomie, geografie, wiskunde en fisika, is glo nie verskaf nie.

Die Ohangwena-streekraad en die direktoraat van onderwys, kuns en kultuur het die skool oor die ondersoek na die beweerde wanpraktyk ingelig.

Die skool is glo op 17 Januarie in kennis gestel dat hulle voor of op 17 Januarie in kennis gestel sal word oor die uitkoms van die ondersoek.

Mbuzi sê egter dié inligting is nie op die dag verskaf nie en haar regsverteenwoordiger het ’n brief aan die ministerie gestuur waarin hulle op antwoorde aangedring het.

Die ministerie het die skool op 25 Januarie ingelig van sy voorneme om die skool te deregistreer om die skool te verhoed om onderrig te verskaf aan NSSCO- en NSSSCA-leerlinge (graad 11 en 12) effektief vanaf 1 Maart 2024.

“Die rede wat aangevoer is, is dat onreëlmatighede in die antwoordstelle van sommige kandidate van die skool vir sekere vakke opgemerk is. Op grond daarvan het die nasionale eksamen-, assesserings- en sertifiseringsraad aanbeveel dat die skool gederegistreer word,” lui Mbuzi se verklaring wat op 14 Februarie by die hof ingedien is.

BETOË

Die skool voer in sy hofstukke aan dat die ministerie nie na enige spesifieke gevalle van wanpraktyke deur die skool verwys nie, wat dit onmoontlik vir hulle maak om die ministerie se besluit te betwis.

“Dit is op die grondslag dat die applikant [skool] ’n volledige ondersoekverslag aangevra het, om te bepaal hoe hulle verder sal optree,” lui die hofstukke.

Mbuzi beweer haar en haar regspan se versoeke vir ’n volledige verslag is tot dusver met vertragingstaktieke beantwoord en wys daarop dat die skool steeds geregtig is om teen die besluit te appelleer of dit te hersien. Hulle wil egter eers die bewerings behoorlik bestudeer.

Die skool voer verder aan hulle is nie ’n geleentheid gegun om hul kan van die saak te stel voor die besluit vir deregistrasie geneem is nie en hulle nie ’n regverdige verhoor gehad het nie.

Partye sal na verwagting vandag in die hoërhof verskyn vir die dringende aansoek om aangehoor te word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!