Skoolhoof en vrou met twee renosterhorings betrap
Borgtog toegestaan ná 7 maande agter tralies
'n Skoolhoof van die Zambezistreek het borgtog gekry ná 'n suksesvolle appèlaansoek by die hoërhof in Windhoek.
Nadat hy sewe maande agter tralies deurgebring het omdat hy met onwettige renosterhorings in sy besit betrap is, is ‘n skoolhoof van die Zambezistreek vry op borgtog ná ’n suksesvolle appèlaansoek by die hoërhof in Windhoek.
Mnr. Kenneth Tebuho (57) is in Julie 2021 saam met sy tradisionele vrou, me. Joyce Libuku (48), in hegtenis geneem nadat ‘n sak met twee renosterhorings in hul voertuig ontdek is terwyl die polisie dit by ‘n padblokkade deursoek het. Die twee staan tereg op verskeie aanklagte wat verband hou met die onwettige besit en handel van beskermde wildprodukte.
Tebuho het hom laat verlede jaar tot die hoërhof in Windhoek gewend nadat landdros Clara Malilo Mwilima van Katima Mulilo sy aansoek om borgtog in Augustus 2021 geweier het.
Tebuho, ‘n jarelange onderwyser en skoolhoof by die Ngoma Gekombineerde Skool in die Zambezistreek, het getuig hy weet niks van die renosterhorings wat in ‘n sak gevind is wat sy vrou glo in die betrokke voertuig gelaai het nie.
Tebuho se prokureurs het gesê sy vrou, met wie hy drie kinders deel, het verlede jaar tydens die borgtogverhoor in die landdroshof aangevoer haar man is onskuldig.
Sy het aan die hof gesê haar man was onbewus van wat sy in die sak gehad het en dat sy “pas met die sak in die voertuig geklim het. Hy het net vervoer verskaf”.
“Hy het nooit iets geweet nie, hy het nie geweet wat aangaan nie,” het sy volgehou.
Libuku het ook getuig sy verdien ‘n klein inkomste deur duiwelsklou, patats en tamaties te verkoop.
Sy beweer sy was ten tyde van haar inhegtenisneming nie seker of die produkte renosterhoring is of nie. Sy het aan landdros Mwilima gesê sy wou probeer verifieer of dit wel renosterhoring is, waarna sy van plan was om dit te verkoop.
Tebuho het in die hof gesê hy ondersteun sy vrou, sewe kinders en sy bejaarde ouers deur die salaris wat hy as skoolhoof verdien.
Hoërhofregter Herman January is ook meegedeel dat Tebuho nie met staatsgetuies sal inmeng nie, aangesien hy nie weet wie die getuies is nie. Verder, as ‘n huis- en beeseienaar, plus die waarskynlikheid dat hy ‘n boete sal ontvang indien hy skuldig bevind word, is die kans skraal dat hy op die vlug sal slaan.
‘HY HET GEWEET’
Die staat het egter gesê Tebuho se gedrag op die dag van hul inhegtenisneming het aangedui dat hy geweet het wat sy in die sak dra.
’n Polisiebeampte het getuig dat Tebuho geweier het om sy voertuig by ’n padblokkade te stop, en eers afgetrek het toe die polisie waarskuwingskote afgevuur het nadat hy weggery het.
Die polisie het verder beweer beide Tebuho en sy vrou het geweier om hul vensters af te rol toe die polisie die voertuig genader het.
Hy het eers hul bevele gehoorsaam nadat die polisie gedreig het om die venster te breek. Hulle het ook glo gesien hoe Libuku probeer het om die sak onder haar sitplek in te druk.
Volgens hofstukke het Tebuho se vrou erken sy het die renosterhorings in haar besit gehad.
January het Maandag beveel die aanvanklike besluit om borgtog te weier, moet ter syde gestel word, en dat Tebuho op borgtog van N$15 000 vrygelaat moet word. Hy is verder verplig om elke Maandag en Vrydag by die Katima Mulilo-polisiekantoor aan te meld, en verbied om die dorp te verlaat sonder om die polisie in te lig. Hy is ook beveel om alle reisdokumente in sy besit aan die polisie te oorhandig.
Mnr. Kalundu Kamwi het as Tebuho se regsverteenwoordiger opgetree, terwyl die staat deur mnr. Johannes Mwatondondandje Kalipi verteenwoordig is.
Dit is onduidelik of Libuku in dié stadium ook ‘n aansoek om borgtog by die hoërhof ingedien het.
Strawwe vir handel in renosterhoring kan ‘n boete van hoogstens N$25 000 of tronkstraf van ‘n maksimum van 25 jaar insluit, terwyl die onwettige besit van ‘n renosterhoring kan lei tot boetes van hoogstens N$15 000 of tronkstraf van ‘n maksimum van 15 jaar.
– [email protected]
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie