• Tuisblad
  • Howe
  • Skoonmaker kry N$300 000 ná voorval by hospitaal

Skoonmaker kry N$300 000 ná voorval by hospitaal

Personeel glo nalatig
Die werknemer was besig om brandstofvlakke met 'n meetstok te meet toe die stok met lewendige elektriese drade in aanraking gekom het.
Kenya Kambowe
’n Skoonmaker by die Nankudu-hospitaal in die Kavango-Wesstreek, gaan N$300 000 van die staat ontvang ná ’n elektriese skok-voorval by sy werkplek in Maart 2024.

Hausiku Alfons Hausiku (32) het in Julie verlede jaar ’n regsgeding teen die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste by die hoërhof in Windhoek aanhangig gemaak. Hy het vergoeding geëis op grond van die nalatigheid van die hospitaal se personeel.

Hausiku moes brandstof van ’n vragmotor by die hospitaal aflaai wat vir een van die hospitaal se kragopwekkers bedoel was.

Terwyl hy die brandstofvlak met ’n meetstok gemeet het, het die stok met lewendige elektriese drade in aanraking gekom.

Dit het daartoe gelei dat Hausiku ernstige elektriese brandwonde aan sy kop, bors, arm, nek, bobeen en voet opgedoen het.

Hy was vanaf die dag van die voorval, 15 Maart, tot 5 Mei 2024 in die hospitaal vir behandeling.

’n Dokter van die hospitaal het hom glo vir drie uur in ongevalle behandel voordat hy in ’n stabiele toestand was.

Hausiku het in sy hofeis aangevoer dat die hospitaal se personeel nalatig was deur die taak aan hom te gee sonder om potensiële gevare, soos oop elektriese drade, te identifiseer.

Hy meen ook dat hulle geen beskermende toerusting aan hom voorsien het of behoorlike opleiding gegee het nie.

In sy eisbesonderhede het hy aangevoer dat die ministerie of sy werknemers ’n verantwoordelikheid het om elektriese drade by die hospitaal te inspekteer, te herstel en behoorlik te beveilig.

Hy sê die hospitaal moet ’n veilige werksomgewing aan hom verskaf.



BEREIK OOREENKOMS

Die ministerie van gesondheid het aanvanklik verantwoordelikheid ontken en aangevoer dat Hausiku nalatig was.

Hulle het beweer dat hy bewus moes gewees het van die gevare en moes geweet het om nie aan lewendige drade te raak nie.

Ná hofgefasiliteerde bemiddeling in November, het die twee partye ’n ooreenkoms bereik. Die ministerie het ingestem om N$300 000 aan Hausiku te betaal met rente teen 20% per jaar vanaf Mei 2024 tot die finale betaling. Hulle sal ook sy regskoste betaal. Die ministerie het 90 dae vanaf die bevel uitgereik is om die betaling te voltooi.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer