Skuldig!
Amerikaners hoor uitspraak ná 12 jaar
Regter Christie Liebenberg het gister die twee Amerikaanse burgers, Marcus Thomas en Kevan Townsend, skuldig bevind aan die moord op André Heckmair in 2011.
“Op grond van die omstandigheids- en direkte bewyse het ek tot die redelike gevolgtrekking gekom dat die beskuldigdes die moord gepleeg het en met opset en ’n gemeenskaplike doel opgetree het.”
So het regter Christie Liebenberg gister in die hoërhof in Windhoek gesê tydens die skuldigbevinding van die twee Amerikaners, Marcus Thomas en Kevan Townsend. Hy het beide skuldig bevind op die sluipmoord van die 25-jarige André Heckmair op 7 Januarie 2011 in Windhoek.
Peter en Birgit Heckmair moes 12 jaar wag vir geregtigheid om te geskied ná die moord op hul seun en het gister aan Republikein gesê hulle verwelkom die uitspraak en wag nou vir die vonnisoplegging.
MOORDWAPEN
Hoewel die moordwapen nooit opgespoor is nie en die Amerikaners nie op die moordtoneel geplaas kon word nie, het Liebenberg beslis dat verskeie omstandigheidsgetuienis ooreenstem en wat bygedra het tot die waarskynlikheid dat dit die waarheid is. Hy sê hy het holisties na al die bewyse gekyk voordat hy sy beslissing gemaak het.
Liebenberg het daarop gewys dat Townsend en Thomas onskuldig gepleit het, geen verduideliking verskaf het nie, hul swygreg uitgeoefen het en geen getuies geroep het nie.
“Hulle het die klagte bloot ontken. . . Hulle stilswye het die staat se saak versterk,” het hy in sy uitspraak gesê.
Van die oortuigende omstandigheidsgetuienis wat tydens die verhoor na vore gekom het, was in verband met ’n 7.65 mm-vuurwapen wat die Amerikaners volgens getuies in Namibië gekoop het.
Die nadoodse ondersoek op Heckmair het vasgestel dat hy met ’n vuurwapen van dieselfde kaliber geskiet is.
Hoewel geen koeëldoppies op die moordtoneel gevind is nie, is ’n gebruikte koeëldoppie in die Amerikaners se gastekamer gevind.
Volgens een van die staatsgetuies het Townsend en Thomas op die dag van die moord die laaste deel van die uitstaande geld vir die vuurwapen betaal. Toe die verkoper hulle gevra het wat hulle met die vuurwapen gedoen het, het Thomas glo geantwoord: “Ek het dit gebruik en toe weggegooi.”
Heckmair se suster, Bianca, het tydens die verhoor getuig haar pa het vir hom ’n 100 Switserse frank-noot gegee en dat dit op die dag van sy moord nog in sy beursie was. ’n 100 Switserse frank-noot is ná die Amerikaners se inhegtenisname in hulle gastekamer gekry.
“Daar is geen bewyse dat dit dieselfde noot was nie, maar dit is ’n aspek wat die hof in ag geneem het,” lui Liebenberg se uitspraak.
UITSPRAAK
Buiten vir die moordklag is Townsend en Thomas ook skuldig bevind op een klag van diefstal en twee wat verband hou met die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.
Thomas is op ’n bykomende klag van dwarsboming van die gereg skuldig bevind, asook ’n klag wat verband hou met die onwettige invoer van geweerlope. Townsend is onskuldig bevind op die invoerklag, maar is skuldig bevind aan die alternatiewe klag van onwettige besit.
So kom die uitgerekte verhoor, wat reeds in November 2014 begin het, amper tot ’n einde met die beskuldigdes, hul regsverteenwoordigers en die staatsaanklaer wat op 18 September weer in die hof sal verskyn.
Die staatsaanklaer, Antonia Verhoef, sal dan argumenteer waarom Townsend en Thomas ’n strawwe vonnis opgelê moet word en die verdediging vir ’n ligter vonnis. Daarna sal ’n datum vir die vonnisoplegging geskeduleer word.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie