Die hoërhof in Windhoek. Foto Kristien Kruger
Die hoërhof in Windhoek. Foto Kristien Kruger

Slotbetoë in regstryd van N$11 miljoen

Man vrygelaat ná tien jaar agter tralies
Hoewel partye Woensdag slotbetoë gelewer het, is die uitspraak eers vir Junie 2023 geskeduleer.
Kristien Kruger
In die saak waarin ’n voormalige taxibestuurder meer as N$11 miljoen van die regering eis, het partye Woensdag in die hoërhof in Windhoek slotbetoë gelewer en die saak is tot 2 Junie 2023 uitgestel vir die lewering van die uitspraak.

Mnr. Petrus Shoovaleka het tien jaar, vyf maande en 29 dae agter tralies deurgebring voordat hy onskuldig bevind is.

Shoovaleka is in 2005 op ’n klag van roof in hegtenis geneem en is ná ’n drie jaar lange verhoor, wat eers sewe jaar ná sy inhegtenisneming begin het, is hy in Julie 2016 onskuldig bevind en vrygelaat.

Hy eis tans meer as N$11 miljoen van die kantoor van die aanklaer-generaal (AG), die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit, asook die president van Namibië en die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie.

SLOTBETOË

Shoovaleka se regsverteenwoordiger van die prokureursfirma Nixon Marcus, mnr. Unomwinjo Katjipuka-Sibolile, het in sy betoë verwys na Shoovaleka se getuienis.

“Die beskuldigde het getuig sy meisie van ses jaar is in ’n motorongeluk dood toe sy na Windhoek gereis het om hom in die tronk te besoek. Dit het sewe jaar gevat voordat hy sy medelye persoonlik met haar familie kon deel.”

“Hy het ook die vreemdheid van sy verhouding met sy kinders beskryf. Toe hy uiteindelik uit die tronk vrygelaat is, het hy besef hoeveel hy gemis het. Hy het met ’n swaar hart verneem dat sy seun skool moes verlaat en basies op straat gelewe het.”

Die tyd wat Shoovaleka in die tronk deurgebring het, was volgens hom onaangenaam.

“Die eiser het getuig hy het tydens sy aanhouding geen gemoedsrus gehad nie. Hy was glo depressief en het magteloos gevoel. Hy het beskryf hoe hy herhaaldelik in die hospitaal opgeneem is omdat hy moeilik asem gehaal het.”

AG ONTKEN AANSPREEKLIKHEID

Die respondente beweer in hul betoë dat hulle nie aanspreeklik gehou kan word vir Shoovaleka se uitgerekte aanhouding nie.

“Ons voer aan die omstandighede van hierdie saak en die verskeie vertragings in die verhoor is in die meeste gevalle deur die beskuldigdes self veroorsaak,” lui die AG, me. Martha Imalwa, se geskrewe betoë.

Die vertragings wat glo veroorsaak is deur Shoovaleka en sy medebeskuldigdes se aansoeke om regshulp en die verteenwoordigers se onbeskikbaarheid, kan volgens die respondente nie voor die AG se deur gelê word nie.

Shoovaleka het verskeie kere aansoek om borgtog gedoen en elke aansoek is van die hand gewys.

“Indien ’n beskuldigde versuim om die hof te oortuig dat hy of sy vir borgtog in aanmerking kan kom, kan dit tog nie aangevoer word dat die AG die verpligting het om die hof se besluit te verander nie,” lui die AG se betoë.

GEREGTIGHEID

Shoovaleka het die hof gevra om uiteindelik vir hom die geregtigheid te gee wat hom reeds jare toekom.

“As daar ooit ’n saak was wat drasties geregtigheid vereis, is dit die huidige een,” eindig Katjipuka-Sibolile sy geskrewe betoë wat by die hof ingedien is.

Shoovaleka het reeds in 2017 die hofeis aanhangig gemaak en sal tot volgende jaar Junie vir die hof se uitspraak moet wag.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!