• Tuisblad
  • Howe
  • Smith-Howard se uitlatings wel lasterlik, sê hof
Die hoërhof het beslis Ciske Smith-Howard het ongegronde, lasterlike uitlatings gemaak teenoor ’n voormalige munisipale raadslid van Hentiesbaai tydens 'n onderhoud in Oktober 2021. Foto Argief
Die hoërhof het beslis Ciske Smith-Howard het ongegronde, lasterlike uitlatings gemaak teenoor ’n voormalige munisipale raadslid van Hentiesbaai tydens 'n onderhoud in Oktober 2021. Foto Argief

Smith-Howard se uitlatings wel lasterlik, sê hof

//Garoëb nooit skuldig bevind aan diefstal
Die hoërhof het beveel Ciske Smith-Howard moet die uitlatings terugtrek en 'n verskoning uitreik.
Kristien Kruger
Die hoërhof het Vrydag beslis Ciske Smith-Howard het wel lasterlike uitlatings gemaak teen ’n voormalige munisipale raadslid van Hentiesbaai, Sifried Junios //Garoëb, tydens ’n nuusprogram wat in Oktober 2021 op Namibia Media Holdings (NMH) se platforms uitgesaai is.

Smith-Howard het in ’n onderhoud tydens ’n episode van Evening Review beweer //Garoëb is ’n dief en dat Hentiesbaai se munisipale raad “nie 'n dief die hoof kan maak van die instansie waarvan hy gesteel het nie”.

//Garoëb het tydens die verhoor aangevoer Smith-Howard het die uitlatings gemaak om sy reputasie te skend. Hy het N$350 000 in skadevergoeding geëis en versoek dat sy die uitlatings terugtrek en ’n verskoning aan hom uitreik.

Smith-Howard het aangevoer dat die uitlatings die waarheid en “verantwoordelike en billike kommentaar oor sake van openbare belang” was.

"Die uitlatings wat deur die eerste verweerder [Smith-Howard] gemaak is, was duidelik nie regverdige kommentaar nie. Hierdie uitlatings is, na my mening, uit pure kwaadwilligheid en om politieke redes gemaak,” lui die uitspraak wat regter Nate Ndauendapo Vrydag in die hoërhof in Windhoek gelewer het.

In Ndauendapo se hofbevel verplig hy Smith-Howard om binne 14 dae die lasterlike uitlatings skriftelik terug te trek en 'n verskoning in beide die dagblaaie The Namibian en Republikein te publiseer. Smith-Howard is ook beveel om //Garoëb se regskoste te betaal.

//Garoëb het geen eise teen NMH ingestel nie.

NOOIT SKULDIG BEVIND

Smith-Howard het nooit ontken dat sy die uitlatings gemaak het nie, maar het beweer dit was nie vals nie, aangesien aantygings van omkopery, bedrog en diefstal van staatseiendom teen die eiser [//Garoeb] gemaak is. //Garoëb het wel tydens die verhoor getuig dat hy nooit skuldig bevind is of deur die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) ondervra is nie.

Hoewel Smith-Howard die klagstaat van //Garoëb se beweerde misdrywe by die hof ingedien het, het Ndauendapo daarop gewys dat geen dissiplinêre verhoor plaasgevind het waar die eiser skuldig bevind is aan die klagte teen hom nie.

GEVOLGE

//Garoëb het tydens die verhoor getuig dat Smith-Howard se uitlatings ernstige gevolge in sy professionele en persoonlike lewe gehad het.

“Sy [//Garoëb] mede-koalisievennote het hom as 'n misdadiger beskou en hy het opgehou om homself polities op sosiale platforms uit te druk, omdat hy bang was om aangeval te word. Dit het sy huwelik, eksterne verhoudings en sakegeleenthede beïnvloed, want niemand wil met 'n dief sake doen nie,” het die uitspraak oor //Garoëb se getuienis gestel.

Smith-Howard se uitlatings het volgens //Garoeb ook vrees en skaamte vir sy familie veroorsaak en sy tienjarige kind is na bewering by die skool afgeknou omdat sy pa ’n “dief” is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer