Die twee mans is op 1 September 2016 op Rundu in hegtenis geneem toe hulle na bewering renostershorings aan Chinese burgers wou verkoop. Foto Argief
Die twee mans is op 1 September 2016 op Rundu in hegtenis geneem toe hulle na bewering renostershorings aan Chinese burgers wou verkoop. Foto Argief

Smokkel-Merc nou staat s’n

Verbeurd verklaar ná renosterhorings in kattebak
'n Werknemer van die Nasionale Vergadering is haar luukse voertuig kwyt wat haar man glo gebruik het om renosterhorings vir smokkelhandel te vervoer.
Ronelle Rademeyer
’n Mercedes-Benz waarin die polisie na bewering op 1 September 2016 op Rundu twee renosterhorings gevind het, is ingevolge die Wet op die Voorkoming van Geörganiseerde Misdaad (Poca) in die hoërhof in Windhoek aan die staat verbeurd verklaar.

Die luukse sedanvoertuig met ’n Windhoek-nommerplaat was die eiendom van me. Mirjam Nakutwima. Dit blyk uit hofstukke sy was in daardie stadium by die Nasionale Raad werksaam.

Volgens die Namibiese aanklaer-generaal, adv. Martha Imalwa, het die hof vir ’n bevel tot verbeuring van dié voertuig gevra aangesien dit instrumenteel was in die misdaad wat gepleeg is, en bekom is uit die opbrengs van onwettige aktiwiteite.

Die ex parte-aansoek is aanvanklik in camera aangehoor om nie slapende honed wakker te maak voor die hof ‘n tussentydse bevel toegestaan het nie.

Volgens Imalwa het speursersant Manfred Ndjamba op dié betrokke dag omstreeks negeuur die oggend inligting van ‘n informant ontvang dat die polisie op die uitkyk moet wees vir ‘n Mercedes-Benz C200 met die registrasienommer N 93719 W.

Volgens die informant was die twee insettendes, Nakutwima se man, mnr. Marshall Heita Nakutwima en mnr. Jeremia Martin Makuve, van plan om renosterhorings aan Chinese burgers te verkoop.

Hy en speursersant Paulus Kapolo het op Rundu na die voertuig begin soek. Hulle het dit naby die Galaxy Mall gevind waar dit geparkeer was.

Sowat anderhalfuur later het twee mans aangestap gekom, ingeklim en weggery. Ndjamba en Kapolo het hulle agtervolg tot by die parkeerterrein van die Cuca Tops Shop, waar hulle weer stilgehou het.

Intussen het nog polisiemanne by die toneel aangekom.

Nakutwima was in daardie stadium besig om geld by ’n OTM te trek.

Die polisie het die twee mans gevra wie is die bestuurder van die Mercedes-Benz is.

Volgens die hofstukke het Nakutwima aanvanklik ontken dat dit hy was, maar het later gesê dit is sy voertuig.

Ndjamba het aan hulle gesê die vermoede is dat daar “beskermde wildprodukte” in sy voertuig is. Toe hulle by die voertuig kom en Nakutwima sluit die deur oop, het Makuve weggehardloop, sê Imalwa in haar verklaring.

Die twee renosterhorings is in ‘n sak in die kattebak gevind.

Volgens haar funderende eedsverklaring het Nakutwima aanvanklik ontken dat die renosterhorings aan hom behoort het. Hy het gesê dit behoort aan ’n man wat hulle onderweg na Rundu langs die pad opgelaai het.

Makuvu het op sy beurt gesê die renosterhorings behoort aan Nakutwima. Hulle is goeie vriende en hy het hom gehelp om ‘n koper daarvoor te vind, sê Imalwa.

Dit blyk uit die hofstukke dat hoewel die voertuig Nakutwima se vrou se naam geregistreer is, hulle binne gemeenskap van goedere getroud is en hy gebruik van die voertuig gehad het.

Die hof het gelas die bevel moet binne 30 dae in die Staatskoerant gepubliseer word. [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!