Smuts neem afskeid ná vyf dekades

Rita Kakelo
Regter Dave Smuts, een van die vier regters wat in die hooggeregshof van Namibië gedien het en die stigter van die Regshulpsentrum (LAC), het ná ’n roemryke regsloopbaan van 50 jaar uitgetree.

By Smuts se afskeid Maandag by die hooggeregshof in Windhoek het hoofregter Peter Shivute gesê Smuts het meer as 130 gerapporteerde uitsprake by die hoërhof geskryf asook meer as 80 by die hooggeregshof.

“Soos jy aftree, laat jy ’n erfenis van intellektuele ywer, regverdigheid en toewyding aan geregtigheid agter. Mag jou aftrede beide rustig en lonend wees.”

In reaksie op Smuts se prestasies gedurende sy lang loopbaan, het Shivute gesê: “Hierdie prestasies beklemtoon nie net sy intellek nie, maar ook sy meedoënlose strewe na uitnemendheid.”

Smuts (70) is op 17 November 1954 gebore en het sy akademiese reis in Suid-Afrika begin, waar hy sy skoolopleiding voltooi het. Hy het sy regsgraad aan die Universiteit Stellenbosch in 1977 verwerf.

In 1983 het hy sy studies aan die gesogte Harvard Law School voortgesit en ’n meestersgraad in regte behaal met die hulp van ’n Rössing Foundation-leierskapbeurs en ’n Fulbright-beurs.

Smuts se akademiese strewe het nie daar opgehou nie. In 1990 is hy verkies as die Orville Schell, jr.-genoot by die Yale Law School, in die Verenigde State van Amerika (VSA), waar hy voortgegaan het om sy regsvaardighede te slyp.



KAMPVEGTER VIR GEREGTIGHEID

Smuts se loopbaan het in 1982 begin toe hy as prokureur tot die destydse hooggeregshof van Suidwes-Afrika toegelaat is.

Met sy terugkeer van Harvard het hy by Lorentz & Bone, Namibië se oudste prokureursfirma, aangesluit, waar hy vinnig tot die posisie van vennoot gevorder het.

In 1988 het Smuts die LAC as stigtersdirekteur gevestig, wat ’n belangrike mylpaal in sy loopbaan was wat toegewy is aan die bevordering van geregtigheid en menseregte.



NUWE AANSTELLING

Ná Smuts se aftrede gister, het Shivute Hosea Angula as regter van die hooggeregshof ingesweer.

Angula, wat in 2015 geskiedenis gemaak het as die eerste adjunk-regterpresident, het sedert 1996 as waarnemende regter in die hoërhof gedien en is permanent in 2016 aangestel.

Hy is in Ondangwa in die Omusatistreek gebore en het sy regsgraad in 1982 aan die Universiteit van die Noorde verwerf, is in 1985 as prokureur toegelaat en het in 1988 ’n vennoot by Lorentz & Bone geword.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer