Staat hof toe gesleep oor volksmoord-aanbod
'Nadelige impak op burgerregte'
Terwyl die Namibiese regering die ooreenkoms van N$18 miljard as 'n groot deurbraak beskou ná jare se onderhandelinge, het die betrokke gemeenskappe dit 'n "belediging" genoem.
Jemima Beukes – Die wetgewer Bernadus Swartbooi, die Landless People's Movement (LPM) en 11 tradisionele owerhede van gemeenskappe wat deur die Nama- en Ovaherero-volksmoord geraak is, het 'n aansoek in die hoërhof gebring om die omstrede gesamentlike verklaring oor die ooreenkoms tussen Namibië en Duitsland nietig te verklaar.
As deel van die ooreenkoms het die Duitse regering ingestem om – as reparasies – 1,1 miljard euro (N$18,6 miljard) oor 30 jaar aan projekte in Namibië te betaal vir die versoening en heropbou van gemeenskappe wat geraak is deur die volksmoord wat vanaf 1904 tot 1908 plaasgevind het.
Terwyl die Namibiese regering die ooreenkoms aangekondig het as 'n groot deurbraak ná jare se onderhandelinge, het die betrokke gemeenskappe dit ’n “belediging” genoem.
GEEN GRONDE
Volgens Swartbooi het die Speaker, Peter Katjavivi, geen gronde gehad om die ooreenkoms in die parlement te opper nie en het hy verder 'n rol daarin gespeel om die parlement van die geleentheid te ontneem om sinvol daaroor te debatteer.
Hy het die hof versoek om Katjavivi se optrede as onwettig te verklaar, en om die ooreenkoms tersyde te stel op grond daarvan dat dit nie ingevolge die staande reëls van die parlement bekragtig is nie.
Verder wil hy hê die hof moet verklaar dat die ooreenkoms strydig is met die bepalings van die Namibiese Grondwet sowel as die 2006-mosie oor volksmoord in die parlement.
‘ONWETTIG’
“Die gesamentlike verklaring is nie 'n betekenislose internasionale verklaring nie, dit is binnelands van toepassing en het 'n nadelige uitwerking op burgerregte – tot op die punt waar dit 'n beleidskeuse gemaak het wat nooit deur die parlement of enigiemand buite die uitvoerende gesag gedebatteer of andersins onder die loep geneem is nie,” het Swartbooi gesê.
"Die regering het nie die inherente mag om eensydig wette te maak nie, selfs op 'n internasionale vlak wat 'n direkte impak het op wat met burgers gebeur. Dít is 'n substantiewe wetgewende mag wat vir die parlement gereserveer word," lui hofstukke.
Swartbooi het gesê die gesamentlike verklaring is onwettig en voer verder aan dat Katjavivi se besluit om bloot die verklaring in die parlement te opper buite sy magte was.
Die standpunt dat die gesamentlike verklaring 'n beleidskeuse verteenwoordig, bepaal volgens hom toekomstige betrekkinge tussen Namibië en Duitsland rakende die volksmoord en skep verder 'n ontwikkelingsfonds in die plek van die betaling van reparasies.
“Die besluit is gemaak sonder die deelname van diegene wat direk geraak is deur die tragiese gebeure [van die volksmoord], of die Namibiese publiek in die algemeen of hoegenaamd.
“Die ooreenkoms beoog dus om kwessie van die volksmoord in beginsel op te los en kies die modaliteit daarvan: Dit beperk watter vorm van skadevergoeding Namibiërs binnelands kan navolg,” het hy gesê.
ONDERHEWIG AAN HERSIENING
Was hierdie besluit slegs onder opdrag van die Namibiese regering geneem, sou daar volgens hom geen twyfel wees dat sulke optrede aan geregtelike hersiening onderhewig sou wees nie.
Hy het die regering daarvan beskuldig dat hy die Grondwet verontagsaam en gesê die resultate daarvan sal direkte, eksterne, regsgevolge hê.
Die wetgewer het beklemtoon dat die Namibiese mense gely het en steeds ly onder die naskokke van kolonialisme, en bygevoeg die eensydige keuse wat die regering in die afwesigheid van parlementêre debat gemaak het, ondermyn die parlement se vermoë om sy verpligting na te kom om voorheen benadeelde Namibiërs te beskerm.
“Geen regsbevoegde keuse van hierdie aard kon gemaak word deur die parlement uit te sluit nie. Die parlement kan nie 'n verpligting nakom waar dit geen sinvolle geleentheid tot deelname of debat gegun word nie,” het hy gesê.
AANSPREEKLIKHEID
Volgens Swartbooi word parlementariërs van hul reg ontneem om die uitvoerende gesag aanspreeklik te hou.
“Wat hierdie agbare hof kan doen en, met respek, moet doen, is om die regering aanspreeklik te hou wanneer sy optrede die Grondwet oortree en die parlement self minag.
"Sou die hof nie ingryp nie sal die saak vir betekenisvolle restitusie van Namibië se eerstenasie-mense, wat die behoud van etniese geheue en groepsidentiteit insluit, verlore wees."
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie