• Tuisblad
  • Howe
  • Staat mag nie teen Noa se kwytskelding appelleer

Staat mag nie teen Noa se kwytskelding appelleer

Aansoek om verlof van die hand gewys
Kristien Kruger
Die staat se aansoek om verlof tot appèl teen Dennis Noa se kwytskelding, is gister van die hand gewys.

Noa is in die streekhof in Windhoek skuldig bevind aan verkragting toe hy na bewering ’n 18-jarige gestremde pasiënt as leerlingdokter by die Katutura-hospitaal in Windhoek verkrag het.

Hy is tot agt jaar tronkstraf gevonnis. Hy het egter teen sy skuldigbevinding en vonnisoplegging geappelleer en was suksesvol. Hy is op 8 November 2024 deur die hoërhof in Windhoek kwytgeskeld.

Dit is teen dié besluit wat die staat wou appelleer. Voordat hulle egter die hooggeregshof met ’n appèlaansoek kon nader, moes hulle ’n aansoek om verlof tot appèl by die hoërhof indien.

Regters Philanda Christiaan en Herman January het gister dié aansoek van die hand gewys.

“Ons is nie oortuig die applikant [staat] het daarin geslaag om op ’n oorwig van waarskynlikhede te bewys dat daar vooruitsigte op sukses op appèl is nie,” lui die uitspraak.



BETOË

Die staat het in hul aansoek om verlof tot appèl aangevoer dat die hof ’n fout begaan het in sy evaluering van omstandigheidsgetuienis.

Daar is ook aangevoer die hof het nie die belang van die stof wat in die klaer se anus gevind is, korrek geïnterpreteer nie.

Die staat het ook beweer die hof het tot die verkeerde gevolgtrekking gekom met betrekking tot die bestaan van ’n “vyfde portier”.

Die staatsaanklaer, Palmer Khumalo, het in die hof aangevoer dat Noa se weergawe van gebeure verkeerdelik as “redelik” en “moontlik waar” aanvaar is.

Noa se regsverteenwoordiger, Sisa Namandje, het beweer die staat het geen redelike vooruitsigte op sukses op appèl nie.

“Die applikant [staat] het versuim om bo redelike twyfel te bewys dat die klaer aan ’n seksuele daad onderwerp is, spesifiek die beweerde penetrasie deur die respondent [Noa] se penis,” het Namandje aangevoer.

Namandje het verder aangevoer dat, indien daar wel ’n seksuele misdaad plaasgevind het, Noa nie die enigste persoon was met die geleentheid om die misdryf te pleeg nie.

Hy het verder daarop gewys dat die staat nie die egtheid van die amptelike bywoningsregister betwis het nie. Dit het glo aangedui dat vyf portiers op die betrokke datum aan diens was.



STREEKHOF

Die hoërhof het die streekhof se skuldigbevinding omgekeer op grond van bevindings dat die betrokke landdros sekere gedeeltes van die getuienis weggelaat het en dit waarskynlik nie oorweeg het nie.

Die hoërhof in Windhoek het bevind die landdros het verkeerdelik beslis dat die saak teen Noa bo redelike twyfel bewys is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer