Die grondwetlikheid van afdeling 179(1)(b) van die Strafproseswet word tans in die hoërhof in Windhoek uitgedaag. Foto Argief
Die grondwetlikheid van afdeling 179(1)(b) van die Strafproseswet word tans in die hoërhof in Windhoek uitgedaag. Foto Argief

Strafproseswet word weer eens uitgedaag

Amusheleo, Cloete se saak uitgestel
Die grondwetlikheid van die gedeelte van die strafproseswet wat polisie die mag gee om private dokumente sonder 'n lasbrief te bekom, word tans in die hoërhof in Windhoek uitgedaag.
Kristien Kruger
“Individue se private inligting moet nie bekend gemaak word sonder die toesig van ’n onafhanklike liggaam nie en moet slegs onder streng en gereguleerde omstandighede geskied.”

So lui die verklaring van ’n egpaar wat tans die grondwetlikheid van ’n gedeelte van die strafproseswet uitdaag, wat die polisie in staat stel om slegs met ’n geskrewe kennisgewing, dokumente te bekom en getuies te verplig om te getuig.

Me. Manga Nawa-Mukena en mnr. Joseph Mukena staan tereg op 85 klagte van bedrog en diefstal, asook klagte van geldwassery en regsverydeling.

Die egpaar het in Mei vanjaar ’n aansoek by die hoërhof in Windhoek ingedien teen onder meer die aanklaer-generaal (AG), die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie en die minister van justisie.

Die aansoek is ’n grondwetlike uitdaging van afdeling 179(1)(b) van die Strafproseswet.

AFDELING 179(1)(B)

“Polisiebeamptes het ingevolge die strafproseswet, kennisgewings uitgereik om verskeie dokumente te bekom wat hulle nou in die saak teen my en my man gebruik,” het Nawa-Mukena in haar verklaring gesê.

Die dokumente wat polisiebeamptes in Nawa-Mukena en Mukena se saak bekom het, sluit in bankstate, inligting oor banktransaksies en die registrasie van maatskappye in haar en haar man se naam.

Die betrokke afdeling van die strafproseswet bemagtig enige polisiebeampte wat redelike gronde het om ’n skriftelike kennisgewing uit te reik om persone te versoek om te getuig of dokumente te verskaf.

Sodanige persoon word dan ingevolge die wet gelas om sodanige hofverrigtinge by te woon of dokumente voor te lê.

‘ONGRONDWETLIK’

Die egpaar het in hofstukke uitgewys dat dié wet nie geregtelike toesig vereis nie. Dit is daarom nie soos ’n lasbief wat deur ’n landdros onderteken moet word nie.

“Daar is absoluut geen rede waarom bankrekords nie verkry moet word op grond van ’n geregtelike goedgekeurde bevel nie,” lui die egpaar se aansoek.

Volgens hulle sit die wet nie “redelike gronde” uiteen nie en is daarom te vaag. Hulle beweer ook dat enige polisiebeampte volgens dié wet die mag het om private dokumente te bekom en dit maklik misbruik kan word.

Die aanklaer-generaal, me. Martha Imalwa, het in haar verklaring dié bewerings verwerp.

“Dit is die polisiebeampte wat aan die saak toegewys is se verantwoordelikheid om getuies te verplig om hof toe te kom om te getuig of dokumente voor te lê.”

Volgens die egpaar se verklaring kan die wet ook veroorsaak dat beskuldigdes onkant gevang word tydens hul saak of selfs wanneer hulle getuig.

“Die beskuldigde is ook nie ingelig voordat die kennisgewing uitgereik is nie en word nie geleentheid gegun om vertoë te rig nie. Die beskuldigde kan nie deur die dokumente gaan voordat dit aan die hof voorgelê word nie,” lui Nawa-Mukena se verklaring.

Imalwa ontken dat die beskuldigde nie die dokumente mag sien en deurgaan voordat dit in die hof voorgelê word nie.

“Die staat sal die dokumente aan die beskuldigdes bekend maak voordat dit in die hof voorgelê word en die beskuldigde kan beswaar maak teen die voorlegging van die dokument indien hy/sy dit as ontoelaatbaar ag,” was Imalwa se antwoord.

In Imalwa se verklaring het sy versoek indien die hof bevind afdeling 179(1)(b) van die Strafproseswet is wel ongrondwetlik, dat dit nie ongeldig verklaar moet word nie, maar eerder na die parlement verwys word om die geïdentifiseerde gebrek reg te stel en die betrokke afdeling te wysig.

AMUSHELELO EN CLOETE

Die buitelandse valutahandelaars, mnre. Michael Amushelelo en Gregory Cloete, wat daarvan beskuldig word dat hulle ’n Ponzi-skema bedryf het, se saak is ook uitgestel hangend die uitkoms van die uitdaging van afdeling 179(1)(b) van die Strafproseswet omdat die uitkoms uiteraard ook ’n invloed op hul saak sal hê.

Amushelelo en Cloete se saak waarin hulle teregstaan op 365 klagte, is verlede week in die hoërhof in Windhoek tot 6 Desember uitgestel.

Die klagte sluit in bedrog, alternatiewelik diefstal deur valse voorwendsels, geldwassery, rampokkery, die bedryf van ’n ongemagtigde bankbesigheid en die bedryf van ’n Ponzi-skema, wat ’n oortreding van die Wet op Bankinstellings is, en belastingontduiking.

Nawa-Mukena, Mukena, Amushelelo en Cloete word deur mnr. Kadhila Amoomo verteenwoordig.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!