Die landdroshof op Grootfontein. FOTO ARGIEF
Die landdroshof op Grootfontein. FOTO ARGIEF

Strawwe boetes vir weermagfoto’s

Elvira Hattingh
Die Suid-Afrikaanse egpaar wat Dinsdag in hegtenis geneem is nadat hulle foto’s van ’n inligtingsbord in die militêre sone naby die Grootfonteinse weermagbasis geneem het, is boetes van altesaam N$13 000 elk opgelê, of andersins die opsie om tronkstraf van tot drie jaar uit te dien.

Elizabeth Brummer (60) en haar man, Daniël (65), is verlede week in die landdroshof op Grootfontein skuldig bevind nadat hulle ook skuldig op die klagte teen hulle gepleit het.

Die egpaar is skuldig bevind op klagte van betreding, waarvoor hulle elk ’n vonnis opgelê is vir 12 maande tronkstraf of ’n boete van N$1 000. Daarbenewens is hulle skuldig bevind op die oortreding van Artikel 55 van die Verdedigingswet 1 van 2002, waarvoor hulle elk ’n boete van N$12 000 moet betaal of drie jaar tronkstraf moet uitdien.

Laasgenoemde wet verbied jou om foto’s van militêre basisse of installasies te neem en stipuleer selfs dat daar ook nie sketse, planne, modelle of notas hiervan geneem mag word nie.

VERWEER

Die Brummers het gesê hulle het geen duistere motiewe teen die staat gekoester nie en het om verskoning gevra vir enige ongerief wat hulle veroorsaak het.

Die egpaar se regsverteenwoordiger het verduidelik dat hulle in Meyerton, Gauteng, woon. Elizabeth is ’n tuisteskepper en haar man ’n afgetrede onderwyser. Hulle is op vakansie in Namibië en Daniël het, as ’n lid van die Suid-Afrikaanse weermag, tussen 1980 en 1981 diens by die Grootfonteinse weermagbasis gedoen.

Hy wou vir sy vrou wys hoe die basis lyk waar hy diens gedoen het en hulle was ook van plan om die Grootfonteinse staatshospitaal te besoek, waar Elizabeth gebore is. Hulle het mooi herinneringe aan die plekke en wou alleenlik om dié rede foto’s neem.

Hulle het aangedui ’n familievriend sou hulle bystaan om die boetes te betaal en het die hof versoek om ’n boete van nie meer as N$10 000 op te lê nie en dat hul paspoorte en selfone aan hul terugbesorg word.

Die staatsaanklaer, Sara Kandume, het egter gesê die erns van die oortreding bedreig die sekuriteit van die land.

“Dit is die grootste sekuriteitsaanleg in die land en daar behoort geen toegewings gemaak te word as dit by die vonnis kom nie,” het sy gesê.

Sy het dit nie teengestaan dat hul selfone en reisdokumente terugbesorg word nie.

Landdros Boniface Konga het gesê aangesien die egpaar se ouderdom gevorderd is, sal dit nie ideaal wees as hulle tronkstraf moet uitdien nie en hulle boetes opgelê. Konga het ook opdrag gegee dat hul selfone en reisdokumente aan hulle terugbesorg moet word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!