Studente in tronk sleep owerhede hof toe
Sestien studente wat hul graadstudies in die Windhoek Sentrale Gevangenis probeer voltooi, het die hof genader en beweer die Namibiese korrektiewe dienste (NCS) belemmer doelbewus hul studies.
Hulle voer aan dat hul internettoestelle en tafels weggeneem is en eis in ’n dringende aansoek by die hoërhof in Windhoek dat dit aan hulle terugbesorg word.
Rodney Shaningua, ’n gevangene en finalejaar-regstudent (LLB) aan Stadio, beweer in sy verklaring dat die hoof van onderrigdienste van Windhoek se korrektiewe geriewe, Robert Naundobe, aan hom erken het dat die NCS probeer om die aantal studente in aanhouding te verminder.
“Die vyfde respondent [Naundobe] het ook genoem hulle is aangesê om hierdie beperkings in te stel om die aansoekers [studente] te frustreer en te ontmoedig sodat hulle hul studies laat vaar en die aantal studente by Windhoek se korrektiewe geriewe tot ’n ‘hanteerbare’ getal kan verminder,” lui Shaningua se verklaring.
Die kommissaris-generaal van die NCS, Raphael Hamunyela, ontken egter dié bewerings.
“Die respondente wil nie die studiepogings van die applikante belemmer nie. Inteendeel, die respondente wil hê die applikante moet voortgaan en hul studies voltooi sodat hulle meer doeltreffend in die samelewing kan integreer sodra hulle vrygelaat word – dit is immers die doel van rehabiliterende gevangenisstraf.”
Hamunyela ontken ook die studente se bewerings dat hulle nie met hul studies kan voortgaan nie. Volgens hom het Windhoek se korrektiewe geriewe in 2022 Wi-Fi gekry en is dit dieselfde Wi-Fi wat by alle regeringskantore, ministeries en selfs howe gebruik word.
“Die aansoekers loop dus nie ’n onmiddellike gevaar om te druip of aanlyn lesings, toetse of aktiwiteite mis te loop nie. Dit is bloot vals en oordrewe bewerings.”
FISHROT ‘KRY SPESIALE BEHANDELING’
Shaningua beweer in sy verklaring dat die besluit om hul toestelle af te vat, kom as gevolg van die NCS wat toegee aan die eise wat die Fishrot-beskuldigdes gestel het.
“Ons is bewus daarvan dat hulle gedreig het om hof toe te gaan as hulle nie internettoestelle en Gmail-e-posrekeninge mag hê nie. Omdat die NCS bereid was om aan die eise van hierdie beskuldigdes toe te gee, moes hulle hul tot ons wend met die besluit om die beperking in te stel.
“As gevolg van die eise deur hierdie beskuldigdes [Fishrot] bevind ons, die studente, onsself aan die kortste end van die stok sodat spesiale behandeling en bevoordeling aan ander beskuldigdes gegee kan word en aan hulle eise voldoen kan word,” lui Shaningua se verklaring.
Hy beweer verder dat hul tafels van hulle weggeneem is en hulle gedwing word om op hul skote te werk, terwyl die Fishrot-beskuldigdes tafels en stoele in hul selle mag hê.
“Die bevoordeling en voorkeurbehandeling wat nie eens weggesteek word nie, is skokkend en dit blyk of die NCS die eise van hierdie beskuldigdes ten alle koste sal paai en toegee aan hul eise.”
Hamunyela ontken dat die Fishrotters voorgetrek word en verduidelik in sy verklaring dat geen gevangene gemagtig is om ’n tafel in sy sel te hê nie.
“Ek ontken dat die applikante wetlik geregtig is op stoele en lessenaars in hul eenhede. Ek voer aan dat die lessenaars en stoele wat in die applikante se eenhede gevind is, onregmatig deur die applikante ingesmokkel is nadat dit geleidelik oor die jare uit die gemeenskaplike studiearea verdwyn het. Die verwydering van die items word dus genoodsaak om die status quo te handhaaf,” beweer hy.
HOFAANSOEK
Die groep gevangenes wat reeds gevonnis is, beweer hulle het aan die begin van die jaar goedkeuring van tronkowerhede gekry om vir hul akademiese jaar vir aanlyn afstandonderrig by verskeie tersiêre instellings te registreer.
Op 6 Februarie is hul rekenaars glo weggeneem om “administrateur-wagwoorde” te kry. Daarna is hul internettoestelle (pocket Wi-Fi) afgevat. Hulle is glo ingelig dat hulle nie meer daarvan gebruik kan maak nie.
“Die meerderheid van hierdie toestelle is deur ons akademiese instellings aan ons [aansoekers] gegee vir aanlyn studiedoeleindes.
“Sommige van ons het aansoek gedoen by die NCS vir toestemming om ons eie toestelle aan te koop en dit is goedgekeur,” het Shaningua in sy verklaring gesê.
Naundobe het hulle glo toe ingelig dat hulle van die NCS se ethernet-kabels vir internettoegang gebruik moet maak.
“Die NCS se netwerk is hopeloos te onbetroubaar, ondoeltreffend en kan selfs dae en weke lank sonder internetverbinding wees,” beweer Shaningua.
Hamunyela het in sy verklaring gesê internettoestelle is slegs tydelik vir akademiese doeleindes ingebring nadat die Covid-19-pandemie tot aanlyn onderrig gelei het. Hy meen dit was nie ’n permanente reëling nie en daarom kon dit verwyder word nadat beter internet by die fasiliteit geïnstalleer is.
STUDIERIGTINGS
Die ander applikante in die hofsaak sluit in studente van die Universiteit van Namibië (Unam), die Namibiese Instituut vir Wetenskap en Tegnologie (Nust) en die Namibiese Kollege vir Afstandonderrig.
Hul studierigtings sluit in LLB, menslike hulpbronbestuur, besigheid, ekonomie en kommunikasie en dit sluit in studente vanaf eerste jaar tot finale jaar.
Een van die applikante is besig met sy honneursgraad in logistieke en aankoopbestuur.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie