FOTO ARGIEF
FOTO ARGIEF

Suurstoftekort lei glo tot breinskade

Seun sterf ná epileptiese aanval
Die vrou sou glo aanvanklik 'n keisersnee ondergaan het, maar daar is egter besluit om haar te induseer om natuurlik geboorte te skenk.
Rita Kakelo
’n Hartgebroke ma dagvaar die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste vir N$1,1 miljoen nadat die nalatigheid van personeel glo tot haar oorlede seun se permanente breinskade gelei het.

Breinskanderings wat as bewysstukke oor die beweerde optrede in Desember 2017 in die Windhoek Sentrale Hospitaal ingedien is, wys glo dat Namwi Nyambe se seun, Isaac Mafale, ’n tekort aan suurstof voor, tydens en ná sy geboorte ervaar het.

Dit het glo gevolglik tot onvoldoende breinontwikkeling gelei, met Isaac wat in Januarie 2024 ná ’n epileptiese aanval gesterf het.

Nyambe meen dit is veroorsaak weens die onregmatige, nalatige optrede van die verweerders en betrokke mediese personeel.

Volgens Nyambe was sy nege maande swanger toe sy in die vroeë oggendure van 25 Desember 2017 by die hospitaal aangemeld het, omdat sy gesukkel het om asem te haal.

Sy is onmiddellik opgeneem en gemonitor. Ná ’n ondersoek en mediese toetse het personeel volgens Nyambe glo aan haar gesê ’n onreëlmatige hartklop dui daarop dat haar ongebore baba in nood verkeer. Kort daarna het dr. Angella Nawa na bewering haar ingelig dat sy die volgende dag ’n keisersnee sou ondergaan.

“Ek is egter later ingelig dat die operasie gekanselleer is en ek eerder die volgende dag geïnduseer sou word om natuurlik geboorte te skenk,” lui die hofstukke.

Om 09:00 die volgende oggend het ’n verpleegster die medikasie aan Nyambe gegee om die kraamproses te begin. Sy het geboorte aan ’n seuntjie geskenk. Nyambe het egter opgemerk dat hy nie gehuil het nie. Hy is in die neonatale intensiewesorgeenheid (Nicu) opgeneem waar hy op ’n suurstofmasjien geplaas is.

Op 27 Desember het Nyambe na bewering gesien hoe haar seuntjie ’n aanval (seizure) kry. In September 2018 het hy glo weer ’n ernstige aanval gekry, gevolg deur verskeie episodes met verloop van tyd.

In die daaropvolgende jare het Nyambe glo vertragings in haar seun se ontwikkeling opgemerk. Namate sy toestand versleg en die aanvalle meer gereeld voorgekom het, het sy na bewering om hulp by verskeie dokters en spesialiste gaan aanklop.



VERWEER

In die ministerie se verweer en by monde van Nawa het sy bevestig dat sy Nyambe gesien het.

Nawa het in haar hofstukke erken sy was op 25 Desember 2017 as mediese beampte by die Windhoek Sentrale Hospitaal se verloskunde- en ginekologie-afdeling aan diens.

“Ek was geskeduleer vir ’n nagskof wat om 17:00 begin het en tot 26 Desember 2017 om ongeveer 08:00 sou duur,” lui haar hofstukke.

Dit was tydens haar skof- en roetine-monitering dat sy aandag moes gee aan Nyambe wat volgens haar laaste besoek aan die voorgeboortekliniek vir ’n “elektiewe induksie vir kraam” opgeneem is.

Volgens Nawa het sy gesien Nyambe is met die toestand polyhydramnios gediagnoseer, wat gekenmerk word deur ’n oormatige opbou van vrugwater rondom die fetus.

“Ek het persoonlik die toestand en die implikasies daarvan met Nyambe bespreek. Ten spyte van haar diagnose het ek geen ander faktor waargeneem wat ’n risiko vir haar of haar baba kon inhou nie,” luidens die hofstukke.

Nawa het gevolglik op die kontrolelys aangedui dat Nyambe stabiel genoeg was om binne 24 uur geïnduseer te word.

Sy ontken Nyamba se bewering dat sy gesê het die baba se hart verkeer in nood, wat ’n keisersnee sou regverdig.

Die saak, wat voor regter Eileen Rakow dien, is vir ’n statusverhoor tot 15 April uitgestel.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-31

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer