Swakopmund-slagter se paroolsaak uitgestel

Regering sê nog twee jaar agter tralies
Die man wat in 1998 sy vrou in Swakopmund vermoor en haar oorskot gekook het, sê hy moet in aanmerking kom vir parool.
Kristien Kruger
In die saak waarin Thomas Florin – die man wat in 1998 sy vrou in Swakopmund vermoor, haar oorskot opgesny en gekook het en beweer hy moet in aanmerking kom vir parool – is ’n nuwe regter onlangs aangestel en die saak is tot 30 Oktober uitgestel.

Florin is in Desember 1999 lewenslange tronkstraf opgelê nadat hy skuldig bevind is aan moord, lykskending en dwarsboming van die gereg.

Hy het sy vrou, Monika, in Junie 1998 in hul huis in Swakopmund vermoor nadat sy Namibiese verblyfpermit van die hand gewys is. Sy vrou wou glo nie toelaat dat hy sy twee kinders saam met hom na Duitsland neem nie.

Regter Boas Usiku is as die nuwe voorsittende regter aangestel en ’n bevel is onlangs uitgereik dat beide partye hoofbetoë voor 16 Oktober by die hof moet indien.

PAROOL

Florin beweer hy moet vir parool oorweeg word aangesien hy sy lewenslange vonnis uitdien kragtens die bepalings van die Gevangeniswet 8 van 1959 wat van toepassing was ten tyde van die pleging van die misdrywe waarvoor hy skuldig bevind en gevonnis is.

Die regering en ander respondente wat die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit insluit, erken dat Florin die misdade gepleeg het terwyl die Gevangeniswet van 1959 van krag was, hy is egter ingevolge die 1998-tronkwet gevonnis.

“Die applikant [Florin] se eis om in aanmerking te kom vir vroeë vrylating op parool kragtens die 1959-wet is nie feitelik en wetlik geregverdig nie, aangesien die applikant gevonnis is vir sy misdrywe ingevolge die 1998-tronkwet wat die gevangeniswet herroep het,” beweer die respondente in hofstukke.

FLORIN SE KINDERS

Florin se volwasse seun het in 2021 in ’n brief aan die hof gevra om sy pa vry te laat sodat hy sy kinders in Duitsland kan besoek en sy kleinkinders kan ontmoet.

Florin se dogter het egter in Februarie 2022 in mediaberigte beswaar gemaak teen sy vrylating

“Hy het een lewe geneem en twee verander. Ons lewens sou baie anders gewees het. . . Ek dink nog so gereeld aan my ma en ek vra myself altyd af – hoekom?”

Florin se seun was twee jaar oud en sy dogter vier ten tyde van hul ma se moord.

NóG TWEE JAAR

Die regering is van mening dat Florin 23 jaar van sy vonnis uitgedien het en hy ’n verdere twee jaar moet uitdien voordat hy in aanmerking kan kom vir ’n vroeë vrylating vir ’n proeftydperk. Die regering het verder aangedui dat dit Florin se optrede as ’n misbruik van die regsproses beskou.

“Die applikant behoort sy beskikbare regsmiddel ingevolge die betrokke wetgewende raamwerk te volg in plaas daarvan om sy vrylating op parool verkeerdelik by die howe te vra.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!