Thomas Florin is reeds byna 24 jaar agter tralies. Foto Argief
Thomas Florin is reeds byna 24 jaar agter tralies. Foto Argief

Swakopmund-slagter veg steeds vir vrylating

Thomas Florin se saak weer voor hof
Hoewel 'n veroordeelde moordenaar poog om vroeër vrygelaat te word, voer die staat aan dat hy eers in Desember 2024 daarvoor in aanmerking kan kom.
Kristien Kruger
Die Swakopmund-slagter wat in 1998 sy vrou vermoor, haar oorskot opgesny en gekook het, se saak waar hy vir die derde keer poog om vroeër vrygelaat te word, het Maandag in die hof voorgekom en uitspraak sal op 15 Maart 2024 gelewer word.

Thomas Florin het in 2014 saam met 26 ander applikante die hoërhof genader waar hulle vroeë vrylating van hul lewenslange vonnisse gesoek het. Dié aansoek en sy daaropvolgende appèlaansoek is van die hand gewys.

In 2022 het Florin nog ’n poging aangewend wat ook misluk het. Die huidige aansoek is in Januarie vanjaar by die hoërhof in Windhoek aanhangig gemaak.

“Die applikant [Florin] se volgehoue regstappe word as ’n misbruik van die regsproses beskou,” sê die staat in sy hofstukke wat op 23 Oktober by die hof ingedien is.

VRYLATING

In sy huidige aansoek beweer Florin dat hy sy vonnis ingevolge die Gevangeniswet 8 van 1959 uitdien, en hy kragtens dié wet in aanmerking kan kom vir vroeë vrylating. Dié wet was van toepassing ten tyde van die pleging van die misdrywe waaraan hy skuldig bevind is. Hy is egter ingevolge die Gevangeniswet van 1998 gevonnis.

Ingevolge dié wet kan Florin eers ná 25 jaar in aanmerking kom vir vroeë vrylating. Dit beteken Florin moet nog een jaar agter tralies deurbring aangesien hy tans byna 24 jaar van sy vonnis uitgedien het.

Florin is in Desember 1999 lewenslange tronkstraf opgelê nadat hy skuldig bevind is aan moord, lykskending en dwarsboming van die gereg. Hy is tans in aanhouding by die Windhoek Sentrale Gevangenis.

DISKRIMINASIE

Florin beweer verder dat daar “blatant en onregverdig teen hom gediskrimineer word” omdat hy ’n buitelander (Duitse burger) is.

“Daar is geen regverdigbare rede vir so ’n onderskeid nie,” voer hy aan.

Hoewel die regering in sy hofstukke daarop wys dat vrylating op parool slegs vir Namibiërs en mense met permanente verblyfpermitte beskikbaar is, nie-Namibiërs steeds vroeër vrygelaat kan word op ’n proeftydperk (probation).

“Die regering sal aanvoer dat die geskiktheid vir ’n vroeë vrylating op parool of proeftydperk beskikbaar is vir buitelandse burgers in gelyke mate as vir Namibiese burgers.”

Florin voer aan dat die beweerde diskriminasie teenstrydig is met Artikel 10 van die Grondwet.

Hy voer verder ook aan dat die Namibiese korrektiewe dienste se besluit om nie sy paroolaansoek te oorweeg nie, ’n direkte skending van Artikel 18 van die Grondwet is, wat vereis dat administratiewe liggame billik en redelik moet optree.

“Hulle het die verkeerde regsbeginsels toegepas om te besluit of ek vir vrylating kwalifiseer of nie en hulle het ’n regsfout begaan,” beweer hy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!