Swanger tiener vermoor

Beskuldigde kry nie borgtog
Die voorval het skokgolwe deur Okahandja gestuur, en die inwoners eis geregtigheid en 'n veiliger omgewing vir al sy inwoners.
Tanja Bause
Aurelia Afrikaner – Inwoners van Okahandja het gister ’n vreedsame optog na die landdroshof gehou om die borgaansoek teen te staan van ’n man wat daarvan beskuldig word dat hy op 9 September ’n 16-jarige swanger meisie, Ciara Friedrich, vermoor het.

Die beskuldigde, Ebson Otto (24) – wat eers Donderdag in hegtenis geneem is – is gister borgtog geweier en sy saak is tot 23 November uitgestel. Hy sal na die Windhoek Sentrale Gevangenis oorgeplaas word.

Die voorval het skokgolwe deur die dorp gestuur, en die inwoners het aangedring op geregtigheid en ’n veiliger omgewing vir alle inwoners.

Familie en vriende het hul misnoë uitgespreek oor die trae reaksie van die Okahandja-staatshospitaal met die uitstuur van ’n ambulans asook die hulp van die polisiebeamptes wat eerste op die toneel was.

Hulle beweer die polisie het gesê hulle kan nie help nie omdat hulle nie ’n noodhulpkissie gehad het nie.

Ciara was in die vroeë oggendure van Saterdag 9 September op pad na haar kêrel se huis in Nau-Aib toe sy aangeval en met ’n skerp voorwerp in die hart gesteek is.

Die aanval het naby haar ouma se huis plaasgevind en haar ma, Petra Friedrich, het haar hulpkrete gehoor en Ciara te hulp gesnel. Sy het Ciara in ’n plas bloed gevind, hoewel sy nog gelewe het.

Haar ma is ingelig dat die ambulans op die dorp reeds ’n ander pasiënt Windhoek toe vervoer het.

Hulle het drie ure lank vir bystand gewag en die ma se pleidooie het onbeantwoord gebly. Volgens Petra is Ciara dood toe hulle haar huis toe gedra het. ’n Buurman het hulle om hulp hoor roep en Ciara se liggaam na die hospitaal vervoer.

Volgens Petra het ’n verpleegster glo gesê dat Ciara nie die voorval sou kon oorleef nie aangesien sy in die hart gesteek is, maar dat die baba gered kon word as hulle vroeër by die hospitaal uitgekom het.

“Hy is ’n dier om ’n swanger vrou te vermoor. Ek wil net weet wat my dogter aan hom gedoen het dat hy verplig gevoel het om haar te vermoor. Ek wonder hoe voel sy ma – sy het vier kinders – en het geweet dit is haar seun wat dit gedoen het. So hoekom het sy hom weggesteek? Sy het my selfs kom omhels. As ’n ma, hoe voel sy?” het Petra gevra.

Die slagoffer, wat deur vriende en familie as ’n belowende jong meisie vol lewe beskryf word, was agt maande swanger.

Haar familie, wat aan die betoging deelgeneem het, het hul dankbaarheid uitgespreek vir die gemeenskap se ondersteuning en hul hoop dat geregtigheid sal geskied.

“Ciara was ’n vrolike kind. Sy was altyd bereid om ’n helpende hand te gee, en sy sou leiding neem tydens ons skoolaktiwiteite. Sy was die skool se danskampioen,” het Fransina Jason, een van haar onderwysers, gesê.

Seth Gariseb, ’n gemeenskapsaktivis, het gesê: “Vandag staan ons saam as ’n gemeenskap, as bure, en as mense wat bekommerd is oor die toekoms van ons dorp. Ons moet seker maak hierdie tragedie word nooit vergeet nie en dat hierdie jong meisie se nalatenskap ons buurt inspireer om ten goede te verander.”

Inwoners het gesê hulle voel onveilig in hul eie woonbuurte en het ’n beroep op plaaslike owerhede gedoen om hul pogings te verdubbel om die veiligheid van alle burgers te verseker.

NOG ’N GBV-VOORVAL

Maandag omstreeks 04:00 het ’n man ’n meisie (33) in Onyekastraat in Okuryangava geskiet en gewond en homself doodgeskiet. Sy is in die kop geskiet en is in ’n kritieke toestand in die Katutura-staatshospitaal opgeneem.

Die verdagte, David Valungameka (40), het homself daarna in die mond geskiet en hy is op die toneel dood verklaar.

Die twee was na bewering in ’n verhouding.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!