• Tuisblad
  • Howe
  • Teksboodskap impliseer ‘twee Amerikaners’

Teksboodskap impliseer ‘twee Amerikaners’

Heckmair-moordverhoor
Die binneverhoor sal beslis oor die toelaatbaarheid van bewyse wat deur die polisie sonder 'n visenteringslasbrief bekom is.
Kristien Kruger
“Hello, my naam is Henry. Wat is André se nommer? Ek het twee Amerikaanse vriende wat graag met hom wil ontmoet.” Dis ’n teksboodskap wat wyle André Heckmair se ma, Brigitte, op 28 Desember 2010 ontvang het van ’n selfoonnommer wat later aan die moordbeskuldigdes mnre. Marcus Thomas en Kevan Townsend gekoppel is. Sy het haar seun se nommer aan die persoon verskaf. Adjudant Paulus Namendu was die fotograaf van die misdaadtoneel-eenheid van die Namibiese polisie wat Brigitte se selfoon afgeneem het met dié boodskap wat op die skerm vertoon. Hy het ook op 9 Januarie foto’s geneem van die kamer in die gastehuis waar hul in daardie stadium gebly het – drie dae ná die moord op Heckmair en drie dae nadat die beskuldigdes se kamer die eerste keer deursoek is. Namendu het in Januarie 2011 ’n fotoplan saamgestel en ’n gedeelte daarvan is gister tydens sy getuienis by die hoërhof in Windhoek ingedien. Selfoonrekords dui glo daarop aan dat André Heckmair en die beskuldigdes vanaf Desember 2010 tot die dag van sy moord in kontak was.

AFSPRAAK OP DAG VAN MOORD Volgens die getuienis van familielede het Heckmair ure voor sy moord ’n afspraak met “twee Amerikaners” gehad. Hy het glo ’n bespreking by ’n restaurant in Windhoek vir drie persone gehad. Sy familie het hom gesien net voordat hy na die beweerde afspraak vertrek het. In die volgende paar ure is hy in die straat in sy motor doodgeskiet. Die plek waar hy gevind is, was wel nie naby die restaurant waar hulle na bewering sou ontmoet nie. Hoewel die beskuldigdes onskuldig gepleit het op die moord, het dit tydens die verhoor aan die lig gekom dat hulle vir Heckmair geken het en daardie dag met hom sou ontmoet “vir besigheid”, maar Heckmair het toe glo nooit vir die afspraak opgedaag nie. Die rekords toon dat kommunikasie tussen Heckmair en die beskuldigdes omstreeks 11:54 opgehou het en dat die beskuldigdes nie weer daarna kontak gemaak het nie. Die nadoodse ondersoek het aangedui dat Heckmair tussen 13:00 en 14:00 doodgeskiet is. Die binneverhoor oor die toelaatbaarheid van bewyse, wat deur die polisie sonder ’n visenteringslasbrief bekom is, sal vandag voortduur. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!