Die kommisaris–generaal van die NCS, Raphael Hamunyela. Foto Argief
Die kommisaris–generaal van die NCS, Raphael Hamunyela. Foto Argief

Tronkowerhede minag glo hofbevel

Oud-superintendent steeds werkloos
Die hof het beslis dat Albert Jass 'n terugbetaling moet ontvang vir die verlies aan inkomste sedert sy afdanking op 16 Julie 2021 tot die dag van sy heraanstelling.
Kristien Kruger
’n Voormalige senior superintendent wat by die Namibiese Korrektiewe Dienste (NCS) werksaam was, is sedert Julie 2021 werkloos ten spyte van ’n hofbevel wat die betrokke owerhede beveel om hom weer aan te stel.

Regter George Coleman het die hofbevel op 16 November 2023 uitgereik, waarin die minister van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit, dr. Albert Kawana, asook die kommisaris–generaal van die NCS, Raphael Hamunyela, beveel word om Albert Jass vir sy verlies aan inkomste sedert sy afdanking tot die dag van sy heraanstelling, te vergoed.

Jass het gister aan Republikein bevestig dat hy nog nie heraangestel is of enige terugbetaling ontvang het nie.

Hamunyela het op navrae gereageer en gesê hulle werk nog deur die hofdokumente om verdere stappe te oorweeg.

Toe hy egter gevra is of hulle van plan is om die hofbevel na te kom en Jass weer aan te stel, het hy die foon doodgedruk.

In gevalle waar respondente nie hofbevele nakom nie, meen die Regshulpsentrum (LAC) se direkteur, Toni Hancox, kan die gegriefde party die hof weer nader om aansoek te doen vir minagting van die hof.

Jass het gister bevestig dit is ’n stap wat hy ernstig sal oorweeg.

AGTERGROND

Jass is op 16 Januarie 2020 ingelig dat dissiplinêre stappe teen hom geneem sal word, wat op drie klagtes gebaseer is.

Nadat hy later dieselfde jaar voor die dissiplinêre komitee verskyn het, is hy skuldig bevind op twee van die klagtes.

Die komitee het hom skuldig bevind aan die oortreding van die nodige inskrywing in amptelike dokumente of boek en dat sy optrede die goeie naam en reputasie van die NCS sou skenk.

Die komitee het ’n aanbeveling aan Hamunyela gemaak dat Jass na ’n laer rang geskuif moet word. Hamunyela het egter glo van Jass vereis om ’n brief te skryf oor waarom hy nie afgedank moet word nie.

Volgens hofstukke het Jass aan hom gesê hy sou verkies om stil te bly tot hy die geleentheid gegun word om sy kant van die saak te stel.

Hamunyela het vir Jass op 2 Februarie 2021 van sy afdanking in kennis gestel.

Sowat twee weke later het Jass appèl by Kawana [die minister] aangeteken en dit is in Julie 2021 van die hand gewys.

“Gegewe die senioriteit van die beampte wat die prosedures behoort te ken, kan die beampte nie steun op die verdediging dat hy nie aan diens was ten tyde van die beweerde oortredings nie,” was glo die enigste rede wat Kawana vir sy besluit verskaf het.

HOFUITSPRAAK

Jass het daarna die hoërhof in Windhoek genader om Kawana en Hamunyela se besluite te hersien en ter syde te stel.

Jass se regsverteenwoordiger het aangevoer Kawana se kort rede vir sy besluit, het getoon dat hy nie rasioneel opgetree en die bewyse en gronde vir appèl behoorlik oorweeg het nie.

Coleman het in sy uitspraak daarop gewys dat Kawana tydens sy oorweging van Jass se appèlaansoek, geen skriftelike argumente deur Jass voor hom gehad het nie.

“Na my mening is die afwesigheid van skriftelike argumente deur die applikant voor die minister ’n ernstige gebrek in die appèlproses.”

Coleman het verder beslis dat die Kawana ’n fout begaan het in sy beslissing.

“Daar is geen aanduiding voor my oor hoe ’n senior offisier ’n plig kan hê om inskrywings in amptelike boeke te maak wanneer hy nie aan diens is nie. Hierdie redenasie dui daarop dat hy [Kawana] homself verkeerd uitgespreek het oor wat ’n gepaste verweer kan wees,” lui die uitspraak.

Coleman het verder beslis dat die saak nie na Kawana terugverwys moet word nie, aangesien dit vyf maande geneem het om die appèlaansoek af te handel en Jass reeds sedert Julie 2021 werkloos is.

Coleman het beslis dat Kawana se besluit ter syde gestel moet word en Jass heraangestel moet word in die rang wat hy voor sy afdanking beklee het. Hy moes ook ’n terugbetaling van sy salaris sedert 17 Julie 2021 ontvang. Hy het ook die respondente beveel om Jass se regskostes te dek.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!