Trustco hof toe oor gevriesde rekeninge

Skuld Jan Taks sowat N$200 miljoen
Trustco het 'n dringende hofaansoek teen NamRA gebring in 'n poging om weer toegang tot sy rekeninge te verkry.
Kristien Kruger
Die Namibiese inkomste-agentskap (NamRA) het op 1 November die bankrekeninge van al Trustco Group Holdings Limited se maatskappye gevries.

Dit weens meer as N$200 miljoen se uitstaande skuld aan Jan Taks.

Trustco het tesame met 42 van sy entiteite ’n dringende aansoek teen NamRA aanhangig gemaak en partye het gister in die hoërhof in Windhoek verskyn.

Trustco poog om met ’n tydelike interdik weer toegang tot sy rekeninge te verkry, asook om die implementering van besluite wat NamRA geneem het, te stop totdat sy uitdaging van die grondwetlikheid van sekere bepalings van die wet op inkomstebelasting en die wet op toegevoegde waarde (BTW) afgehandel is.

Die ander respondente sluit die prokureur-generaal, die regering, die minister van finansies, die kommissaris van binnelandse inkomste, die kommissaris van NamRA, die raadsvoorsitter van NamRA en First National Bank of Namibia (FNB) in.

“Die applikante [Trustco] is bekommerd oor die tydsberekening van die respondente se betrokke besluite. Hulle is geneem in ’n tydstip wat Trustco en Trustco Bank Limited (TBN) in ’n dispuut met die Bank of Namibia (BoN) betrokke is. Dit handel oor ’n BoN-besluit om TBN te likwideer, terwyl TBN enige bankrotskap betwis. ’n Regmatige kommer bestaan dat die betrokke besluite net ’n strategie is om die BoN in die voorgenoemde litigasie by te staan en die besluite met ’n verskuilde agenda geneem is,” lui mnr. Floors Jacobus Abrahams, uitvoerende finansiële direkteur van Trustco, se verklaring.

DRINGENDE AANSOEK

Abrahams se verklaring wat by die hof ingedien is, bestaan uit twee dele.

Die eerste gedeelte word op ’n dringende basis gebring en versoek dat sekere stappe en optredes van NamRA tydelik gestaak moet word totdat die hersieningsaansoek – wat die tweede gedeelte (Deel B) van die aansoek uitmaak – afgehandel is.

Trustco vra ook die hof vir ’n bevel wat FNB verplig om die maatskappy toe te laat om tydelik van sy bankrekeninge te gebruik.

Die tweede gedeelte van die aansoek versoek die hersiening en tersydestelling van besluite wat NamRA geneem het en Trustco daag ook die grondwetlikheid uit van die bepalings waarop gesteun is om dié besluite te neem.

“Die eerste respondent [NamRA] sal die kennisgewings wat ingevolge die wet op inkomstebelasting en die wet op BTW uitgereik is, terugtrek en geen nuwe kennisgewing rakende die aansoekers [Trustco] mag uitgereik word hangende die uitkoms van Deel B van die aansoek nie,” lui die hofbevel wat regter Shafimana Ueitele gister uitgereik het.

Volgens die hofbevel moet NamRA die geld behou wat ingevolge die kennisgewings ingevorder is, en dit moet teen Trustco se uitstaande belasting afgetrek word. Die saak is tot 15 November uitgestel.

SKULD N$200 MILJOEN

Die kennisgewings waarna die hof verwys, sluit in briewe wat NamRA aan Trustco gerig het.

In ’n brief wat NamRA op 3 Oktober aan Trustco gestuur het, dui die belastingagentskap daarop dat Trustco se maatskappye gesamentlik belasting van meer as N$200 miljoen skuld, met bykans N$104 miljoen se rente.

In dié brief sê NamRA verder dat die huidige betalingsooreenkoms nie voldoende is nie en versoek dat elke entiteit ’n aparte betalingsooreenkoms moet aangaan.

“Die betaling vir die groep word nie nagekom nie en daar is geen konsekwentheid in die bedrae of wanneer die betalings gemaak word nie,” lui die brief.

NamRA het die Trustco-groep glo versoek om 30% van die totale verskuldigde bedrag vir elke maatskappy binne sewe werksdae vanaf die datum van die brief – op 11 Oktober – te betaal. NamRA het na bewering Trustco die geleentheid gegee om ’n betalingsooreenkoms vir elk van die entiteite voor te stel.

“Indien daar nie hieraan voldoen word nie, sal dit lei tot die verhaling van belasting deur derde partye ingevolge artikel 91 van die Wet op Inkomstebelasting,” het NamRA op 3 Oktober gewaarsku.

Op 20 Oktober het NamRA weer ’n brief uitgereik wat sê die versoek wat hulle op 3 Oktober gerig het, nie nagekom is nie. Volgens die brief het NamRA slegs twee betalings van onderskeidelik N$2 210 857 en N$471 817 ontvang.

“U word hiermee versoek om die eis in die brief gedateer 3 Oktober 2022 na te kom en die uitstaande belastingsaldo’s insluitend boetes en rente onmiddellik te vereffen. Indien u versuim om dit te doen, sal NamRA geen ander keuse hê as om die bepalings in die belastingwette te benut nie.”

NamRA het FNB op 1 November glo versoek om die rekeninge van Trustco se maatskappye te vries. Volgens Abrahams se verklaring het dit sonder enige kennisgewing geskied.

“NamRA se optrede het veroorsaak dat die meerderheid van die Trustco-groep se maatskappye nie in staat is om hul daaglikse besigheid te bedryf nie en kon nie hul werknemers en krediteure betaal nie – wat geweldige onherstelbare skade tot gevolg het,” lui Abrahams se verklaring.

ONGRONDWETLIK

Volgens Abrahams se verklaring beweer Trustco die besluite wat NamRA geneem het, het die maatskappy se regte in terme van artikel 18 van die Grondwet skend.

Trustco voer aan afdeling 91 van die Wet op Inkomstebelasting, asook afdeling 36 van die Wet op BTW is ongrondwetlik en eis dat dit na die parlement verwys word vir wysiging.

“Die betrokke besluitnemers maak staat op die meganismes vir die verhaling van belasting ingevolge die wet op inkomstebelasting en die wet op BTW en steun daarom op wetgewende bepalings wat, volgens hulle, ongrondwetlik is deurdat dit onregverdig inbreuk maak op die belastingbetalers se grondwetlike reg tot billike en regverdige administratiewe optrede (artikel 18), toegang tot die hof (artikel 12(1)) en die reg op eiendom (artikel 16),” volgens Abrahams se verklaring.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!