Twee skuldig aan grusame plaasmoord

Bejaardes wreed vermoor
Giel en Sarie Botma is in Februarie 2018 op die plaas Lindeshof naby Koës vermoor.
Kristien Kruger
Ses jaar ná die grusame moord op Giel Botma (79) en sy 80-jarige vrou, Sarie, is twee mans Vrydag skuldig bevind.

Die bejaarde egpaar is in Februarie 2018 op hulle plaas naby Koës wreed aangeval. Giel is geslaan en met sy eie .22-geweer in die mond doodgeskiet. Sarie moes in haar laaste minute geweldige lyding en vrees ervaar toe een van die oortreders haar verkrag en sy met haar eie skoenveters verwurg is.

Julius Frederick (Lemmy) Arndt en Andries Afrikaner is Vrydag skuldig bevind aan twee klagte van moord en een klag van verkragting, huisbraak, sameswering en diefstal.

Die derde beskuldiging, Johannes Marcellinus Christiaan, is onskuldig bevind op alle klagte en is vrygespreek.

ARRESTASIES

Die Botma-egpaar se liggame is ure ná hulle moord, in hul plaashuis gevind. Sarie se liggaam was in die badkamer ontdek nadat die deur oopgeskop is.

Die polisie het drie stelle skoenspore op die toneel gesien en het dit gevolg. Een stel spore het owerhede gelei tot by Afrikaner se huis.

Intussen het die polisie inligting gekry dat die oorledenes se voertuig gesien is waar dit beweeg in die rigting van Aranos. Die voertuig is later in die besit van Arndt gevind en hy is in hegtenis geneem.

Arndt het tydens die verhoor die getuiebank ingeneem en vertel dat hy en Afrikaner die huis binnegegaan het omdat dit donker en stil was en hulle gedink het hulle sal iets kan steel.

Die twee mans het glo begin soek vir die sleutels van ’n kluis wat hulle in die huis gesien het. Hy het verder getuig dat hy later nie vir Afrikaner gesien of gehoor het nie en daarom een van die voertuie se sleutels gevat en weggery het. Hy het enige kennis of betrokkenheid in die moorde ontken en meen dat hy nie een van die oorledenes daardie nag gesien het nie.

Ten spyte hiervan was Sarie se DNS op Arndt se onderbroek gevind tydens die forensiese ondersoek. Arndt se DNS was ook onder Sarie se vingernaels gekry.

“Dit bewys duidelik dat die oorledene en [Arndt] baie naby aan mekaar was gedurende die tyd van die voorval,” lui die hofuitspraak.

Afrikaners het nie ’n pleitverduideliking voorsien nie, maar was in besit van sommige van die egpaar se eiendomme gevind ná sy arrestasie. Afrikaner is ook skuldig bevind op verkragting.

“Terwyl [Afrikaner] se DNS nie aan dié van die oorlede gekoppel is nie, was hy te alle tye teenwoordig gedurende die pleging van die misdade.

“Hy was teenwoordig terwyl die oorledene verkrag is en het niks gedoen om homself van [Arndt] se optrede te distansieer nie. Dit maak hom 'n gewillige deelnemer aan die misdade,” het regter Dinnah Usiku in haar uitspraak bevind.

KWYTSKELDING

In haar uitspraak het Usiku daarop gewys dat Christiaan 'n verduideliking aan die hof verskaf het. Hy het ook 'n bekentenis aan ’n landdros gegee ná sy arrestasie op 3 Februarie 2018. Hy het nie ontken dat hy op die misdaadtoneel was nie, maar het aangevoer dat hy die toneel verlaat het nadat hy gesien het hoe die ander twee mans die plaashuis deur ’n venster binnegaan.

“Hy het inderdaad gesien hoe 'n misdaad gepleeg word en het niks gedoen om dit te keer of aan die owerheid te rapporteer nie. Daar blyk egter geen ander bewyse te wees wat hom verbind met die pleging van die misdrywe nie.

“Ek is van mening dat [Christiaan] se verduideliking moontlik waar kan wees, daarom is hy geregtig op voordeel van twyfel. Gevolglik word hy vrygespreek ten opsigte van al die klagte teen hom en word hy dus vrygelaat,” lei Usiku se uitspraak.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!