Die hooggeregshof. Foto Argief
Die hooggeregshof. Foto Argief

Uitspraak omgekeer oor tradisionele hoof

Aansoek om appèl slaag
Die hooggeregshof het Vrydag 'n appèlaansoek teen 'n uitspraak van die hoërhof toegestaan.
Kristien Kruger
’n Uitspraak van die hoërhof met betrekking tot die aanwysing van ’n nuwe hoof van die vaShambyu-gemeenskap, is Vrydag op appèl omgekeer.

Die hooggeregshof het beslis Sofia Mundjembwe Kanyetu is wel ingevolge die wet deur die hoofraad aangewys en die hoërhof het verkeerdelik bevind dat die raad onregmatig opgetree het deur die ander kandidaat, Maria Ukamba Haindaka, se aansoek te weier.

Ná die afsterwe van die vaShambyu-gemeenskap in die Kavango-Oosstreek se hoof, tradisioneel bekend as hompa, het ’n geskil tussen Haindaka en Kanyetu ontstaan. Albei is lede van die koninklike familie en kan as opvolgers aangewys word. Die minister van stedelike en landelike ontwikkeling is betrek om die aanwysing van ’n nuwe hoof te fasiliteer.

Die minister het die tradisionele owerheid aangeraai om aansoeke vir kandidate in te dien. Die hoofraad het egter besluit om net een van die kandidate se aanwysings te ondersteun en het slegs Kanyetu se aansoek onderteken en na die minister gestuur vir goedkeuring. Hoewel Haindaka se aansoek nie deur die hoofraad ondersteun is nie, het sy self ’n aansoek by die ministerie ingedien.

Die minister het egter Kanyetu se aansoek toegestaan en Haindaka het die hoërhof genader en versoek om die aanwysing van die nuwe hoof te verbied, hangende haar aansoek dat die hof die minister se besluit moet hersien en tersyde stel.

Die hoërhof het bevind die hoofraad was nie gemagtig om ’n kandidaat se aansoek te weier nie en die aanwysing van die nuwe hoof is tersyde gestel.

Die hooggeregshof het wel in die huidige appèlaansoek bevind die hoërhof se beslissing was foutief en dat die wet vereis ’n hoof van die gemeenskap word deur die tradisionele gemeenskap self verkies en die regering is verplig om ’n aanwysing goed te keur en te erken.

“Die hoofraad is gemagtig om ’n hoofman uit die koninklike familie van die gemeenskap aan te wys. Die hof a quo [hoërhof] moes die hersieningsaansoek van die hand gewys het,” lui die uitspraak wat Vrydag deur hoofregter Peter Shivute in die hooggeregshof gelewer is. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!