Unam, oudwerker in regstryd gewikkel
Hof staan aansoek om wysiging toe
Die hofverrigtinge teen 'n voormalige Unam-werknemer is onlangs vertraag ná die universiteit 'n aansoek gebring het om sy eisbesonderhede te wysig.
In die hofsaak waarin die Universiteit van Namibië (Unam) ’n voormalige werknemer vir meer as N$2,3 miljoen dagvaar, het die hof Maandag ’n aansoek toegestaan wat die universiteit toelaat om sy pleitstukke te wysig.
Die saak teen Erwin Namwira Mpasi Katewa is gebring weens beweerde kontrakbreuk met betrekking tot die terugbetaling van onder andere studiegeld.
Ná die suksesvolle voltooiing van sy Philosophiae Doctor (PhD)-kwalifikasie in 2016, het Katewa bedank en na bewering versuim om die finansiële bystand wat hy tydens sy studietydperk van Unam ontvang het, terug te betaal.
Unam se eis van meer as N$2,3 miljoen is glo die finansiële verlies wat die universiteit gely het as gevolg van die geld wat die instelling aan Katewa betaal het vir sy salaris, ander voordele en onderrig.
Regter Claudia Claasen het Maandag in die hoërhof in Windhoek Unam se aansoek om sy eisbesonderhede te wysig, toegestaan.
Die waarnemende visekanselier van Unam, Frednard Gideon, het in die universiteit se aansoek verduidelik daar is inligting in hul eisbesonderhede weggelaat.
Die wysiging is om uit te klaar dat Katewa gevra het om van instelling te verander en dat Unam die skuif vanaf die Universiteit Stellenbosch na die Noordwes-universiteit goedgekeur het.
Katewa se regsverteenwoordiger, Nambili Mhata, het aangevoer dat die saak reeds ver gevorder is en ’n verhoordatum is reeds vir Julie geskeduleer.
Mhata beweer Unam het te laat wakker geskrik en dat hulle “in die bed moet slaap wat hulle opgemaak het”.
Claasen het in haar uitspraak aangedui om die aansoek toe te staan, sal nie die wesenlike feite van die saak beïnvloed nie.
“Die oorsaak, studietydperk en bedrag wat geëis word, bly dieselfde.”
Sy het verder opgemerk geen partye sal daardeur benadeel word nie en dat Katewa en sy verteenwoordiger die geleentheid gegun sal word om op die nuwe, gewysigde eisbesonderhede te antwoord.
“Alhoewel dit nie wenslik is dat ’n aansoek om wysiging so laat in die verrigtinge gebring word nie, is ek van mening die wysigings is in orde aangesien dit poog om die volledige bepalings en ware weergawe van die kontrak vas te lê,” het Claasen in haar uitspraak gesê.
Volgens die hofbevel moet Unam binne 15 dae hul gewysigde eisbesonderhede indien. Katewa se regspan sal dan tien dae gegun word om daarop te antwoord. Die saak is tot 21 Junie uitgestel.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie